Met langtermynweervoorspellings wat daarop dui dat heelwat reën nog vir die streek voorlê voordat die winter toeslaan, is daar meer as genoeg verskoning om gereeld pannekoek te bak – daardie tradisionele reëndaglekkerte.
Hoewel kaneelsuiker altyd koning sal kraai, hoekom nie ’n ligte ete daarvan maak met ’n soutvulsel nie?
Gebruik hierdie resep van Esther Malan uit Huisgenoot om binne 15 minute 18 tot 24 mini-pannekoeke te berei. Laat staan die beslag vir 30 minute voordat dit in min of meer dieselfde tydsbestek gaargemaak word.
Bestanddele
Pannekoekies
4 eiers, geklits
250ml (1 k) melk
60ml (1/4 k) water (indien nodig)
250ml (1 k) koekmeel
2,5ml (1/2 t) bakpoeier
’n knippie sout
Vulsel
30ml (2e) botter
30ml (2e) olyfolie
100g spekstukkies
125ml (1/2k) gerasperde wortel
45ml (3e) meel
250ml (1k) melk
1x410g-blik pitmielies, gedreineer
100g cheddarkaas, gerasper
sout, na smaak
Metode
1. Pannekoekies: Klits die eiers, melk en water (indien nodig) goed saam. Meng die meel, bakpoeier en sout in ’n groot mengbak, maak ’n holte in die middel en giet die melkmengsel by. Klits die beslag tot glad en sonder klonte. Bedek en laat staan minstens 30 minute.
2. Vulsel: Verhit die botter en olie in ’n kastrol en braai die spek tot gaar. Voeg die wortel by en roerbraai nog 1 minuut. Verlaag die hitte, sprinkel die meel oor en roer deur.
3. Giet die melk by en roer aanhoudend tot verdik. Laat die mengsel 5 minute oor lae hitte prut en roer die pitmielies en kaas deur. Geur met die sout. Skep uit, hou eenkant en herhaal met die res van die beslag.
4. Skep van die vulsel op elke pannekoek en rol op soos verkies.