’n Groepie ondersteuners het buite die polisietaakmag se roldraad om die Bram Fischer-gebou gesing en dans ná die verkiesing van Pappie Mokoena van die Afrikan Alliance of Social Democrats (AASD) as die Mangaung-metro se nuwe burgemeester.
Die verkiesing van Mokoena Vrydag op ’n raadsvergadering wat onder streng polisiebewaking buite die gebou, plaasgevind het, is die derde oorwinning vir opposisiepartye in dié metroraad.
Op die vorige raadsvergadering op Woensdag 29 Maart, is Maryke Davies van die DA met ’n meerderheidstem as speaker van die raad verkies.
Die ANC het daarna agt raadslede uit die party geskors.
Vrydag se vergadering moes Woensdag (12/04) plaasvind, maar werkers het verrigtinge ontwrig en die vergadering moes uitgestel word.
Op Vrydag se vergadering is die DA-raadslid David Masoeu as die hoofsweep van die metroraad verkies.
Daar dien dus nou drie lede van opposisiepartye in die uitvoerende hoofbestuur van die Mangaung-metro nadat die meerderheid van ANC-raadslede nie vir Vrydag se vergadering opgedaag het nie.
Die stemming kon voortgaan omdat daar ’n kworum was met 52 van die 101 raadslede wat teenwoordig was.
Omdat daar vir albei portefeuljes slegs een nominasie elk was, is Masoeu en Mokoena dadelik in die onderskeie poste aangestel,
Mokoena is ’n oudburgemeester van die Mangaung-metro en het dus goeie ondervinding van wat dié posisie vereis.
Opposisiepartye soos die DA, VF Plus en die ACDP het hom geluk gewens met sy verkiesing en hul steun vir hom as burgemeester bevestig.