Die Herinneringsdag-parade wat elke jaar aangebied word om hulde te bring aan soldate en ander mense wat in oorloë gesterf het, word vanjaar vir die eerste keer by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke en die Vrouemonument gehou.
Die valskerm-veterane-organisasies en lede van die Memorable Order of Tin Hats (M.O.T.H) reël die parade en kransleggingseremonie.
Chappies van Zyl, een van die organiseerders, sê die parade gaan voortaan by die ligging aangebied word.
“Die doel is om te dink aan mense wat in een of ander oorlog gesterf het,” verduidelik hy.
Hy sê benewens ’n krans wat namens talle organisasies en individue gelê gaan word, gaan daar ook vanjaar ’n krans gelê word om hulde te bring aan diere wat in oorloë gesterf het.
Die Dag van Herinnering, in Engels bekend as “Poppy Day”, dateer uit die Eerste Wêreldoorlog toe dorpe en plase in Europa tydens bomaanvalle vernietig is. Ondanks die wydverspreide omgewingsinvloed van dié aanvalle, het derduisende rooi papawers ná die oorlog oral geblom.
Lt. kol. John McCrae van die Kanadese weermag het die papawers gesien en in Mei 1915 ’n gedig geskryf genaamd “In Flanders Fields”. Die dag word sedertdien oor die wêreld heen herdenk.
Alle militêre veterane is welkom om aan die parade op Sondag 12 November deel te neem. Deelnemers van die parade moet betyds wees sodat die seremonie om 11:00 begin.
Gaste is welkom om piekniekmandjies te bring en ná die tyd vleis te braai op braaiers wat beskikbaar sal wees.
Mense wat graag tydens die geleentheid kranse wil lê, kan Van Zyl by 082-698-4905 bel.