Die hoofgebou van die Parkweg-polisiekantoor met sy stukkende ruite.Foto: Mlungisi Louw


Met honderde ongelukke en voorvalle van misdaad wat hier aangemeld word, is die vervalle toestand van die Parkweg-polisiekantoor vir personeel en besoekers ’n nagmerrie.

Uit misdaadstatistieke wat verlede week bekend gemaak is, blyk dit dat dié kantoor een van vyf brandpuntkantore in die land is wat die aanmelding van misdaad betref.

Bheki Cele, minister van polisie, het Vrydag (18/02) die land se misdaadstatistieke vir Oktober tot Desember 2021 bekend gemaak.

Parkweg beklee die vyfde plek ná die polisiekantore Kaapstad-Sentraal, Honeydew en Johannesburg-Sentraal in Gauteng en Durban-Sentraal in KwaZulu-Natal.

In dié drie maande het Parkweg ook 87 roofklagte – die sesde meeste in die land – hanteer.

Terwyl die sake instroom, verval die terrein al hoe meer.

’n Kontrakteur is in 2017 aangestel om die polisiekantoor op te knap, maar teen 2019 was baie min van die beoogde verbeterings van R82 miljoen te sien.

Thami Mchunu, woordvoerder van die nasionale departement van openbare werke, het in 2019 gesê ’n nuwe tender moes aangevra word om ’n derde kontrakteur aan te stel. Dit was omdat die kontrak met die eerste twee kontrakteurs beëindig moes word. Die eerste kontrakteur het nie volgens die kontrak presteer nie, en die tweede wou te veel geld bykomend hê.

In daardie sta­dium het Mchunu gesê hy hoop dat die werk in 2021 afgehandel sou wees. Tog is tekens van vordering steeds min.

Mchunu het destyds gesê die projek moes net 24 maande duur. Die terrein is op 17 November 2017 aan die eerste kontrakteur oorhandig, en die herstelwerk moes op 19 November 2019 voltooi wees.

  • Die projek bestaan uit: herstel- en instandhoudingswerk aan die hele polisiekantoor;) werk aan die elektrisiteitsnetwerk, wat die aanbring van ’n kragopwekker insluit;) die verbetering van vloedwater- en riooldreinering;) die verbetering van interne paaie;) verbeterings by die honde-eenheid;) die aanbring van parkeerplek vir die polisie en publiek;) die omheining van die polisiekantoor;) die oprigting van nuwe aanhoudingselle; en) die bou van ’n nuwe in- en uitgang.

You need to be Logged In to leave a comment.