Party nader MRK om in te gryp by rioolprobleme in metro

Hier kort ná Menseregtedag wat Dinsdag (21/03) gevier is, het die DA in die Mangaung-metro ’n lang lys van voortdurende rioolprobleme by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien.


Hier kort ná Menseregtedag wat Dinsdag (21/03) gevier is, het die DA in die Mangaung-metro ’n lang lys van voortdurende rioolprobleme by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien.

“Mense bly in ’n metro waar hul menseregte nie gerespekteer word nie,” het Rossouw Botes DA-raadslid Donderdag (23/03) gesê by die kantoor van die Menseregtekommissie waar hy en raadslid Selmé Pretorius die lys ingedien het.

Hy sê die brief bevat 123 gevalle waar rioollekplekke al ’n maand of langer probleme skep.

Bloemnuus het verlede week berig oor die erge lekkasie in die erf van Normarie en Jannie du Plessis in Amsterdamstraat, Noordhoek, waar strome rioolwater deur hul erf en tot in die buurman se swembad gevloei het. Hulle het die naweek die tweede keer ’n privaatkontrakteur gekry om aan die drie mangate op hul erf te werk sodat die rioolwater in die pype wegvloei.

Pretorius sê dié probleem raak sowat 20 huishoudings in die direkte omgewing en daar moet werk aan die hooflyn gedoen word, so hierdie was net ’n tydelike oplossing.

Daar is ook net een hidro-blaasmasjien in die hele metro wat groot blokkasies kan skoonmaak en dié was verlede week in die werkswinkel om herstel te word.

Botes sê die rioolprobleme is van kritiese belang en die munisipaliteit moet dadelik aandag daaraan gee.

“Ons as raadslede meld gereeld die probleme by die amptenare aan, maar dikwels gaan niemand uit om ondersoek in te stel of te probeer om oplossings te vind nie. Dit is waarom ons ons nou tot die Menseregtekommissie om hulp wend.”

Hy sê daar is ook groot probleme met die aanmeld van klagtes omdat die oproepsentrum nie werk nie.

Pretorius sê dit is ’n groot gesondheidsrisiko as riool in mense se erwe en in strate af vloei.

“Oral moet kinders in riool loop of speel,” het sy aan die amptenaar van die Menseregtekommissie gesê.

Dit is nie net in Bloemfontein self waar die wegvloei van onbehandelde riool groot gesondheidsgevaar vir inwoners van die metro skep nie.

Volgens die brief werk nie een van die rioolwateraanlegte in Dewetsdorp, Wepener of Vanstadensrus nie.

Elektriese kabels en toerusting is op al drie persele gesteel en die pompstasies is vervalle.

In al drie die dorpe is die riooldamme oorvol. In Dewetsdorp vloei die rioolwater in die Rustfonteindam, van waar drinkwater vir die metro gepomp word.

Ook in Wepener is die rioolaanleg in onbruik en word rou riool in die Sandspruit gepomp wat in die Caledonrivier vloei.

Water uit die Caledon vloei weer na die Welbedachtdam van waar ’n groot deel van die metro se drinkwater gesuiwer word.

In Vanstadensrus vorm rou riool damme en riviere en besoedel die grondwater, terwyl die dorp meestal op boorgate vir drinkwater staat maak.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.