Inwoners van Universitas is woedend nadat die soveelste luidrugtige studentepartytjie Saterdag gehou is, wat tot in die vroeë oggendure van Sondag in Sergeantstraat en Kwartspark in dié buurt aangehou het.
’n Uitnodiging is die naweek deur studente uitgestuur, waarna na raming tussen 100 en 150 studente by die studentehuis in Sergeantstraat 32 byeengekom het.
Die besturende agent van dié huis is ’n lid van die Multilet-vereniging en het die partytjie daar gestop.
Hierna het die studente besluit om die partytjie by Sergeantstraat 30 voort te sit.
Inwoners het op buurtwaggroepe gekla, waarna lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en AfriForum, en later die polisie, na die toneel gegaan het.
Die boodskap van talle inwoners wat ná dié partytjie opgeklink het, is dat die studentehuise in die woonbuurt moet toemaak.
Sowat 57 inwoners het Maandagmiddag laat ’n vergadering in Kwartspark bygewoon.
Hier het hulle hul griewe gelug oor die partytjie, drankgebruik in die openbaar en die veiligheidsrisiko’s in die woonbuurt weens sulke partytjies.
Die Multilet-vereniging, wat nou tussen 230 en 300 lede het, is egter positief dat hy ’n verandering in die woonbuurt kan bring waardeur die studentehuise en inwoners in vrede kan woon.
Yolinda Loots, voorsitter, sê dit is hul doel om saam met die Universiteit van die Vrystaat (UV), asook die woonbuurtverenigings in Universitas, Brandwag en Parkwes, saam te werk.
Sodoende kan hulle daarin slaag om die woonbuurt skoon en veilig te maak.
“Dit gaan beslis nie oornag gebeur nie, maar daar is beslis vordering.”
Multilet en belanghebbendes soos die UV en woonbuurtverenigings vergader op 14 September om alle betrokkenes se voorstelle na die tafel te bring in die hoop om ’n positiewe uitkoms te verseker.
Multilet het Maandag ná die partytjie gereël dat Kwartspark en die strate waar die partytjie plaasgevind het, skoongemaak word.
Loots sê hulle en die inwoners wil dieselfde vir die buurt hê.
“Ons wil nie partytjies in ons huise hê nie.
“Ons wil Universitas weer ’n veilige en skoon woonbuurt maak, want die eiendomme hier se beleggingswaarde is vir ons net so belangrik soos vir gewone inwoners,” sê sy.
Jakes Jacobs, ondervoorsitter van Multilet, sê daar was laas in Februarie ’n partytjie wat handuit geruk het.
“Ons het al van talle partytjies die afgelope maande bewus geword, en sowat 25 gestop voordat dit plaasgevind het.
“Ons doel is om die UV te dwing om lidmaatskap van Multilet deel van die akkreditasieproses te maak sodat studentehuise aan Multilet se minimum vereistes voldoen.
“Die reëls wat in al ons huise toegepas word, is eerstens dat geen partytjies daar toegelaat word nie, geen alkohol daar gebruik mag word nie, geen luidsprekers toegelaat word nie en respek vir ander inwoners en die bure geld.
“Dit is maar net die begin.”
Jacobs gee toe dat studente beslis ’n plek moet kry waar hulle sosiale aktiwiteite kan aanbied.
“Ons sal met die universiteit daaroor praat en kyk of ons nie ’n oplossing kan vind nie.”