Pasiënte is ontruim toe ’n brand in twee sale in die Nasionaal- Distrikshospitaal in Bloemfontein uitgebreek het.
Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse departement van gesondheid, het bevestig dat ’n brand vandag om ongeveer 15:20 uitgebreek het en dat al die pasiënte veilig ontruim is.
Hy sê dit is nog nie bekend wie vir die brand verantwoordelik is nie.
“Die brand het net buite die pediatriese saal begin en bome naby die saal het die brand vinnig na die eerste en tweede verdieping van die hospitaal versprei.”
Mvambi sê in ’n verklaring die rook het vinnig deur die hospitaal versprei en die hospitaal se noodplan is vinnig geaktiveer sodat pasiënte en personeel ontruim is.
Mangaung-metro se brandweer en nooddiens was vinnig op die toneel en het saam met die Vrystaatse nooddienste gehelp met die ontruiming van almal in die betrokke sale.
Mvambi sê 83 pasiënte in die hospitaal se sale is ontruim waarvan 23 na die Botshabelo- Distrikshospitaal oorgeplaas is. Die oorblywende 50 is tydelik na die Gateway-kliniek op die terrein oorgeplaas van waar hulle na die Universitas- Akademiese Hospitaal en die Pelonomi- Tersiêre Hospitaal oorgeplaas is.
Mvambi sê niemand is in die voorval dood of beseer nie en almal wat in die hospitaal was, is veilig.
Die nuutaangestelde premier MaQueen Letsoha-Mathae en haar man, die speaker van die Mangaung-metroraad Lawrence Mathae, asook die nuwe LUR vir gesondheid Monyatso Mahlatsi en die LUR vir sport, kuns, kultuur en ontspanning was vroeër vanmiddag op die toneel.
Hulle het personeel bedank vir hul flinke optrede om pasiënte veilig te hou.