Sy passie om mense te help begin met sy oneindige entoesiasme vir die manier waarop die menslike liggaam beweeg.
Bloemfontein se blinde fisioterapeut, Koos Bierman, het onlangs ’n praktyk by die Universitas Netcare-hospitaal by die kamers van dr. Henk Jacobs oopgemaak.
Met dié stap wil Bierman, wat al meer as 20 jaar as fisioterapeut by die Universitas- Akademiese Hospitaal werk, ’n bykomende diens vir private pasiënte bied.
Bierman het in 1999 matriek aan die Pionierskool in Worcester voltooi.
Hy het ’n beurs gehad om aktuariële wetenskap te studeer, maar het teruggekom na sy ouers in Bloemfontein waar hy ’n ruk lank ’n veselglasbesigheid saam met ’n vennoot bedryf het.
Later het hy by die Saambou-bouvereniging gehelp om bankdienste meer toeganklik vir mense met gestremdhede te maak.
Toe die bank toemaak, het hy besluit om te gaan studeer.
“Ek wou iets doen waarmee ek my eie onderneming op enige plek kon bedryf.
“Ek wou ook iets doen waar ek die beste in my veld kon wees, ondanks my blindheid.”
Hy het fisioterapie aan die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) studeer.
Die universiteit het in daardie jare slegs een swaksiende student per jaar toegelaat om dié graad te studeer, en Bierman was slegs die derde om die graad in daardie stadium aan dié universiteit te verwerf.
Hy het sy gemeenskapsjaar in Bloemfontein kom doen en is daarna ’n vaste betrekking in Universitas aangebied.
Hier het hy jare lank alles geleer wat hy kon rondom die beroep en ook in 2010 ’n Magister in Sake-administrasie (MBA) aan ’n universiteit in Engeland voltooi.
Bierman glo in ’n oorsaak-gefokusde benadering tot terapie.
“Ek fokus op die oorsaak om uiteindelik die korttermyn-simptome te verlig.”
Met sy “hands-on” benadering tot assessering en behandeling het hy al duisende mense gehelp met chroniese probleme soos kopseer en rugpyn, asook sportbeserings, en voor én ná operatiewe rehabilitasie. Hy gebruik ’n verskeidenheid behandelingstegnieke soos fisieke terapie, droë naalde en oefening-gebaseerde rehabilitasie.
“Die manier waarop ’n mens beweeg, het ’n invloed op jou liggaam. Ek kan die pasiënt se stap- en hardloopbeweging analiseer om bewegingspatrone te identifiseer wat beserings kan voorkom of behandel.”
Belangstellendes kan die Facebook-blad Koos Bierman: The Blind Physiotherapist volg vir interessante inligting en wenke oor allerlei gesondheidsonderwerpe.
- Koos behartig ook die bemarking van die Vrystaatse Fisioterapievereniging. Die vereniging vier nasionaal sy 100ste verjaardag, en as deel hiervan word ’n program op die Vrystaatse Kunstefees aangebied.
Bierman is op Donderdag 4 Julie om 14:00 deel van ’n paneelgesprek met prof. Chris Brooderyk, Mathys Roets en Jeremy Barnard, wat in ’n motorongeluk beseer is. Die praatjie vind in die Equitas-senaatsaal op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV).
Bywoning van die gesprek is gratis.