Die dramaleerlinge van die Hoër Meisieskool Oranje wat met die produksie Mansgenoeg as streekwenners in die ATKV-tienertoneelfees aangewys is. Van links voor, is: Mienke Brummer, Ancois Bodenstein en Jenna van den Berg (aangewys as beste aktrise)

Gesels ’n mens met Chanmari Erasmus, drama-onderwyser by die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein, weet jy dadelik waarom Mansgenoeg in die ATKV-tienertoneelfees uit 25 deelnemende skole as die sentrale streekwenner aangewys is.

Haar passie vir drama en hoe dit leerlinge se lewens verryk, borrel soos goeie toneelspel uit haar mond.

Die toneelstuk is geskryf deur Ilne Fourie en geregisseer deur Chanmari.

Chanmari, wat sedert 2021 drama vir gr. 8- tot gr. 12-leerlinge aanbied, is tydens vanjaar se tienertoneelfees as die beste regisseur aangewys.

Dié toneelstuk het ook ’n goue eerbewys vir produksie, vir spel, individuele spel, ensemble, teks en regie ontvang. Mansgenoeg is verder bekroon as die beste ensemble, Jenna van den Berg as beste aktrise, Ancois Bodenstein was ’n benoemde vir beste aktrise en Lee-Anne Mouton vir beste tegnici.

Voor die puik prestasies tydens dié fees, het die dramaleerlinge hul talente in die vertoonkas by verskeie feeste ten toon gestel.

Sy sê die voorafoptredes is veral belangrik om tydsberekening in te oefen.

“In komedie gaan alles oor tydsbereking.”

Hulle het op 20 Julie na Gauteng vertrek waar hulle by die Helpmekaar-kollege aan die Aardklop Pronk Podium deelneem.

Vandaar maak hulle ’n draai in Springs by die FAK Allegreto-tienertoneelfees. Hulle durf die winterkoue van Fraserburg in die Karoo aan en tree op tydens die 45ste Logan-toneelfees.

Op 10 Augustus beïndruk dié dramagroep tydens die ATKV-tienertoneelfees se Bloemfonteinse streeksuitdunne. Hier kry hulle goud in al die afdelings en ’n silwer vir tegniese versorging.

Uit 25 skole dring hulle saam met drie ander skole deur na die eindronde wat op Saterdag 13 Augustus gehou is. Hier is hulle as die wenners aangewys.

Die agt produksies wat na die eindronde vroeg in Oktober in Kaapstad gaan, word later aangewys.

Chanmari sê sy het altyd geweet drama is haar ding. Vroeg in haar lewe het sy dit in haar are voel vloei.

Die keuse om drama te swot was maklik en dit het die vlam vir haar passie nog hoër laat brand.

Vir haar is die verhoog soos heilige grond en betree sy die dit met die grootste respek. Chanmari bly voortdurend bewus van die ure en ure se harde werk wat in ’n produksie belê word.

“Die produk is mooi en goed, maar die proses is absoluut goud werd. Dit is nooit net ’n naweek of week ding nie, dit is maande en maande se stap met ’n groep. Hierdie meisies is weereens ’n bewys dat die samesyn vir hulle, die spel op die verhoog en die eindproduk hulle lewens op alle vlakke verryk.”

Drama leer kinders om veral in skoolverband buite die boks te dink. Dit maak leerlinge bewus daarvan dat hulle ’n opinie kan hê en dat dit belangrik is om oor dinge in die lewe ’n opinie te hê. Weet hoekom jou opinie is wat dit is.

“Deernis is ’n eienskap wat ons as mense moet aangryp. Drama leer deernis – om regtig te probeer verstaan en om om te gee. Drama vertak in al die ander vakke soos tale as jy opstelle moet skryf of mondeling moet praat. Dit bevorder ook analitiese denke,” sê sy.

Vandag neem die dramagroep aan die interskole by die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch as deel van die kultuurprogram deel.

You need to be Logged In to leave a comment.