Pellissier se waterprobleme duur voort

Inwoners eis in ‘n brief aan die Mangaung-metro se uitvoerende burgemeester dat die waterkrisis ondersoek en opgelos word.


Nadat water Dinsdag (29/03) ’n kort rukkie uit krane in Pellissier gevloei het, was dié krane Woensdag weer droog en het die watervloei later eers begin verbeter.

Niemand het nog antwoorde oor waarom die krane weer droog was nie.

Trots Pellissier, die woonbuurtvereniging van dié woonbuurt, het Woensdag ’n brief aan die Mangaung-metro se uitvoerende burgemeester, Mxolisi Siyonzana, gerig waarin inwoners daarop aandring dat die waterkrisis in dié woonbuurt ondersoek en opgelos word.

Nico Gerber, voorsitter van die vereniging, sê Pellissier het oor die afgelope jaar 87 dae lank nie water gehad nie.

“Die vereniging is juis begin oor die ineenstorting van dienste wat deur die Mangaung-metro aan Pellissier en sy inwoners moes lewer,” sê hy in die brief.

Die probleem met nie-betaling en die vete tussen die metro en Bloemwater is wyd bekend en is deel van die dilemma.

“Ons is heeltemal gekant teen die voorgestelde water-rantsoene wat beoog word om die probleem moet help verlig. Dit sal eerder die probleem vererger oor die ligging van Pellissier. Daar is genoeg kundige mense wat die metro kan help om oplossings vir die probleem voor te stel,” sê hy.

Gerber sê een van die groot probleme is dat daar nie genoeg reservoirs vir Bloemfontein is nie en dit is onregverdig dat die suide altyd die onderspit delf.

“Hoewel die waterprobleme by baie ander plekke in Bloemfontein voorkom, is dit die ergste in Pellissier.”
Bloemnuus het navrae aan die metro se kommunikasie-afdeling sowel as Bloemwater gerig oor wat die probleem is asook oplossings wat voorgestel is, maar het nog nie antwoorde op hierdie vrae gekry nie.

Rossouw Botes, DA-raadslid, sê mense soek antwoorde en die saak sal op vandag (Donderdag) se raadsvergadering bespreek word.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.