’n Groepie Bloemfonteinse vroue wat vroeg in April mekaar leer ken het, gaan die naweek deelneem aan ’n nasionale hekel-marathon in ’n poging om komberse vir minderbevoorregtes te hekel.
Die ATKV Arendsnes-tak aan die Wesrand bied ’n unieke Hekelsafari-marathon oor 30 ure aan.
Deelnemers word gevra om blokkies wat hulle op hul eie gehekel het, van Vrydag 25 Mei om 12:00 tot Saterdag om 18:00 aanmekaar te hekel.
As deel van ’n winterwarm-projek sal die komberse aan behoeftige mense en instansies uitgedeel word.
Dié blink idee van ’n hekel-marathon het in die Arendsnes-tak uitgebroei waar die lede wissel van twee maande tot 86 jaar oud. “Ons is een groot laslappiekombers – verskillende persoonlikhede en verskillende patrone, gemaklik deur ons eie kultuur saamgebind,” vertel Monique Brink, takvoorsitter.
Volgens Leandra van Wyk, ondervoorsitter, is die tak se hoofdoel nie liefdadigheid nie, maar om taal en kultuur saam met gesinne te geniet as voorbeeld vir die volgende geslagte.
Tydens die marathon moet iemand deurentyd hekel – dieselfde mens hoef nie vir 30 ure aaneen te hekel nie. Die Safari-deel dui op die geografiese omvang – dit het in die Wesrand begin en daar is nou al deelnemers so ver as Namibië en Botswana. Dit sal ook regstreeks gestroom word sodat hekelaars van oraloor kan inskakel.
Die Bloemfonteinse groep was meestal aan die begin vreemdelinge wat weekliks saamgekom het om vir dié projek te hekel.
Gou het daar vriendskappe ontstaan en nou sien hulle uit na hul weeklikse hekel-kuier.
Mense wat aan die hekel-marathon in Bloemfontein wil deelneem, kan Annatjie Bezuidenhoudt by 073-271-4951 bel. Die plaaslike hekel-marathon vind by haar huis in Langenhovenpark plaas.