Een van die ses uitgeteerde perde wat in Oktober 2022 op die eiendom van Christel van Rhyn aangetref is. Foto: Verskaf


’n Vrou van Winnie Mandela (Brandfort) wat haar perde sleg verwaarloos het, is vandeesweek in die landdroshof ’n boete van R3 000 of drie maande tronkstraf opgelê, wat in geheel vir drie jaar opgeskort is, nadat sy aan diere­mishandeling skuldig bevind is.

Die vonnisoplegging Maandag van Christel van Rhyn, wat aan perdesport deelneem, kom nadat ses uitgeteerde perde in Oktober 2022 op haar eien­dom in die Vrystaatse dorp gevind is toe die Bloemfonteinse DBV na aanleiding van verskeie klagtes van die publiek ondersoek ingestel het, sê Reinet Meyer, senior inspekteur van die DBV.

Weens die ernstige aard van hul beserings moes die perde van kant gemaak word. Meyer sê die perde het skaars spiermassa gehad toe die DBV hulle aangetref het. Die perde se heupbene, ruggraat en ribbes het duidelik uitgestaan.

Die perde is onder haglike omstandighede aangehou, met ’n oop rioolpypleiding wat oor die erf geloop het. Daarmee saam het hulle verskeie siektetoestande onder lede gehad.

“Ek vind dit kommerwekkend, veral omdat Van Rhyn aktief aan perdesport­soorte deelneem. Ek glo dat haar volge­houe deelname tot die mishandeling van die arme diere bygedra het.”

Die hof het gelas dat Van Rhyn twee jaar lank nie ’n perd mag besit nie. Sy is onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te hê.

You need to be Logged In to leave a comment.