Perspektief bepaal feite van die lewe

Die inbeller se boodskap op die radio is helder.


Die inbeller se boodskap op die radio is helder.

“Sê vir die matrieks hulle moet emigreer. Hier is geen geleenthede in Suid-Afrika nie, die land is in sy peetjie in.”

Sy finale opmerking: “En dit is ’n feit.”

Wat maak hom so seker? Hoe kan hy beweer dat sy siening ’n feit is?

Geen geleenthede nie?

Die ergste: Hoe kan hy dit sê vir jongmense wat aan die beginpunt van hul werkslewe staan?

Ek wil nie heeltemal van die omie verskil nie, maar ek is bang dat sy feite, wat dalk nie feite is nie, feite word – want deesdae lyk dit asof enige mening ná ’n paar geselsies om die vleisbraaivuur ’n feit word.

Die een feit waarmee ek saamstem, is dat die regering ons liederlik in die steek gelaat het. Ons is een van die lande met die hoogste werkloosheidsyfer in die wêreld.

Beteken dit dat dit ’n feit is dat die jonger geslag oorsee moet gaan om werk te kry?

Kom ons loer ’n bietjie na die ander kant van die argument.

Enige mens wat ’n werk wil kry, moet wil werk.

Enigiemand wat werkloos is en wil werk, sal bereid wees om die leer van onder na bo te klim. Hulle sal dus nie vir die ideale werk wag voordat hulle iets begin doen nie. Diegene sal enige geleentheid aangryp om hul werklus te bewys.

In ’n wêreld waar al hoe meer vryskutwerkers op webwerwe die geleentheid gegun word om hul talente internasionaal te bemark, moet ons wyer dink, wyer kyk en wyer doen.

Meer nog: Ons het die internet waar ons dikwels kosteloos van die bestes kan leer, en sodoende die beste kan word.

Om die beste te word verg visie, ywer en deursettingsvermoë. As een van daardie drie ontbreek, kan ’n mens maar na die oom op die radio luister. Sy feite sal jou feite word.

Daar was ’n tyd toe mense op werk en werksgeleenthede kon wag.

Nie meer nie.

Die tyd vir geleentheid­skeppers is nou ryp.

Ek skakel die briljante elektrisiën/loodgieter/hekhersteller/voorkeerdokter wat my verlede keer gehelp het.

Hulle kan my eers volgende week help – want hulle is te besig.

Elders kla iemand dat sy besigheid nie aan die gang kom nie, en almal is skuldig – behalwe hy.

Onlangs hoor ek van ’n elektrisiën wat nie werk kry nie. Ek bel hom die volgende keer dat ek iemand nodig kry. Die gehalte van sy werk maak egter dat ek hom nooit weer sal bel nie. Erger nog, ek probeer selfs vriende van sy vrot diens red.

Hy is beter daarmee om te kla as om sy werk te doen. Dalk moet hy sy klaery sy werk maak.

Vir hom is die inbeller se feit ’n feit.

En hy besef dit nie, maar hy is die rede.

Dit is ’n feit dat ons ’n hoë werkloosheidsyfer het. Dit is ook ’n feit dat daar mense is wat uitstaande werk lewer – hier in ons land – en altyd werk sal hê. Of werk kan skep.

Kies jou feit.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.