Phillip Henn, geliefde akteur, is Woensdag in die ouderdom van 63 oorlede.
Phillip Henn. Foto verskaf

Die geliefde akteur, Phillip Henn wat gister in die ouderdom van 63 oorlede is, was vir jare lank ‘n bekende inwoner van Jeffreysbaai. Henn, wat bekendheid verwerf het vir sy rolle as Johann Vorster in Egoli en dr. Chris van Deventer in Binnelanders, is oorlede weens bloeding op die brein. Nooddienste is Sondag ontbied nadat hy by ʼn huis in Oesterbaai geval het. Hy het in Mei vanjaar ʼn hartomleiding ondergaan, maar het daarna goed herstel. In 2019 het hy sy debuutroman, 500 Myl, uitgegee. Hy was ook ‘n talentvolle fotograaf. Veronica Fourie, Kouga Express se korrespondent in Jeffreysbaai, vertel van haar jarelange vriendskap met Henn.

My pad met Phillip Henn het begin toe ons mekaar by ‘n gemeenskapsvergadering oor veiligheid ontmoet het. Ek moes as verslaggewer ‘n onderhoud met die spreker, gen. Roland de Vries doen. Phillip was in die gehoor, en wou graag sy boek 500 Myl aan die generaal oorhandig. Ek het later ‘n foto van hulle geneem vir ‘n herinnering.

Dit was drie jaar gelede dat die oud-weermagman die generaal vertel het dat hy, al verby 60, nog net so fiks is as wat hy destyds was. Phillip het gereeld met ‘n ou ‘army sak’ vol klippe en dinge langs die strand gedraf. Hy het daarvan gehou om skougehalte te wees. Hy wou sy liggaam fiks hou, en bruin. Dit was deel van sy ‘package ‘ – met gryswordende hare, agtertoe gekam.

Phillip Henn en Veronica het 'n laaste ete geniet voor hy Bloemfontein toe vertrek het vir sy hartoperasie.
Phillip Henn en Kouga Express korrespondent, Veronica Fourie, was jare lank vriende, en is hier by ‘n laaste ete in Jeffreysbaai voor hy Bloemfontein toe vertrek het vir sy hartoperasie. Foto: Verskaf

Met die hartoperasie in Mei was hy bietjie bekommerd oor die letsels wat dit sou los, want sy voorkoms sou sy werk beïnvloed. Die chirurg het glo belowe dit sal byna onsigbaar wees.

Hy het gesond geleef – al jare lank niks gerook of alkohol gedrink nie. Ondanks sy ontstuimige verlede.

Phillip het hom verbind aan ‘n kerk op Jeffreysbaai wat hy getrou bygewoon het. Toe daar geskiet is aan Kelders van Geheime naby Franschoek het hy dáár kerk toe gegaan. Sy lewe het betekenis gehad.

Maar, daardie groot rol het hom bly ontwyk. Hy het jare gelede sy merk gemaak in van die sepies, maar daardie spesiale rol wou hy nog bitter graag hê. Hy het gedink die rol as burgemeester in Kelders sou die een wees, maar dit was ongelukkig van korte duur. Hy het selfs maande in die kontrei vertoef met die hoop dat hy terugeroep sou word.

Intussen het hy bly asemrowende foto’s neem. Hoewel die werk skaars was, was dít sy passie! Dit was veral die fotosessies met kinders wat hom opgewonde gemaak het.

Hy het die groot droom gehad om 500 Myl as ‘n film te maak. Hy het dit juis aanvanklik as ‘n draaiboek geskryf. Maar ‘n borg was buite bereik.

Om met Phillip te gesels, was ‘n vreugde. Sy wye algemene kennis, van politiek tot klassieke musiek, het aangename kuiers tot laatnag tot gevolg gehad.

Hy was alombekend by die groot verskeidenheid koffiekuierplekke op Jeffreysbaai. Hy het na die bekendheid hiervan en die kelners se vriendelikheid verlang toe hy in die Boland was. Maar netso kon hy nie genoeg kry van huiskos nie. Hy kon smul aan die eenvoudigste geregte, en heerlik weglê aan ‘n tweede bord kos. En met ‘n wegneemete huis toe gaan.

Hy het graag gesê hy is ‘famous en arm.’ Die begroting het selde geklop. Hy moes gereeld planne maak. As sy kar stukkend was, het hy met sy rugsak winkels toe gestap. Ook kerk toe, wat aan die soom van die dorp is. Dit was soms vir hom ‘n verleentheid as die dorpsmense hom ‘n geleentheid wou gee. Hy het met sweet wat hom aftap, maar net gesê hy wil fiks bly.

Daar was nog soveel stories in sy kop wat hy wou skryf. Sy boek sou binnekort voorgelees en opgeneem word vir radio. Hy het gehou van films, en wou dit self maak. Met sy eie stories.

Hy het dikwels vertel van sy oorsese reise, maar New York was sy gunsteling. Hy het graag in die winter die lang roomkleurige jas en deftige skoene gedra wat hy daar gekoop het.

Hy het ‘n uitgebreide kennis van operamusiek gehad. Self het hy tegniese aspekte van groot opera- produksies behartig.

Hy het gevoel die hartoperasie het hom ‘verniel’. Hy het psigies ‘n moeilike tyd daarna beleef, hoewel hy goed herstel het.

Die langman het harte verwarm. Hy was nie oorvriendelik nie, en het ‘n handjievol getroue vriende verkies. Hy was tog Jeffreysbaai se celebrity. Mense het onder mekaar gepraat en gesê hulle het weer daai ‘Egoli-man’ in die koffiewinkel of restaurant gesien.

Nou het sy lewensstorie sommer so stomp geëindig – sonder kameras of regie.

You need to be Logged In to leave a comment.