Gepiekelde avokadopere

Avokadokwekersvereniging

Jy het seker al baie gepiekelde komkommer, uie of wortels geëet, maar het jy geweet dat jy ook avokadopeer kan piekel?

Gepiekelde kos word al gewilder onder bekende kosfundies en sjefs gebruik graag avokadopeer omdat dié vrug so lekker romerig is en goed meng met speserye.

Hoe lekker sal dit nie wees om ’n bottel gepiekelde avokadopeer gereed te hou in jou yskas nie?

Vars produkte word al meer as 4 000 jaar gepiekel.

Die Mesopotamiërs het byvoorbeeld komkommers in ’n soutmengsel gepreserveer.

Gepiekelde kos en groente het sedertdien ’n stapelkos in talle kulture geword. Dit kan ook baie gesondheidsvoordele inhou danksy die fermentasieproses wat dit ondergaan.

Gepiekelde avokadopere word gemaak van avokado’s wat nog nie heeltemal ryp is nie.

Die gepiekelde avokado’s werk heerlik saam met toebroodjies en burgers, slaaie en selfs saam met Mexikaanse geregte soos quesadillas, burritos en tacos.

Dit neem sowat 20 minute om die piekels te maak en moet sowat 3 ure in die yskas verkoel word voordat jy dit kan gebruik.

Die piekels kan tot so 2 of 3 weke in die yskas hou, afhangend van hoe ryp die avokadopere was toe jy dit gepiekel het. As die gepiekelde avokadopere begin pap word, moet jy dit eerder weggooi.

Jy benodig:

  • 2 avokadopere wat nog nie heeltemal ryp is nie
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • vars dille
  • ’n glasbottel wat dig seël

Vir die piekelvloeistof benodig jy:

  • 250 ml witasyn of appelsiderasyn
  • 250 ml water
  • 60-38 ml suiker
  • 5 ml sout
  • 30 ml geel mostertsade
  • 5 ml swart peperkorrels
  • 5 ml rissievlokkies
Maak nou so

  • Verhit die asyn, water, suiker en sout in ’n klein souspan oor matige hitte en kook – roer aanhoudend. As jy appelsiderasyn gebruik, gebruik meer suiker. As die suiker en sout opgelos is, voeg die mostertsaad, peperkorrels en rissievlokkies by en plaas eenkant om af te koel.
  • Skil en sny die afvokadopere in wiggies.
  • Plaas die knoffel, dille en avodako-skyfies in die glasbottel en giet die piekelvloeistof daaroor. Seël die glashouer dig.
  • Verkoel vir ten minste drie ure.
  • Geniet!
Besoek avocado.co.za vir meer resepte.

You need to be Logged In to leave a comment.