’n Lewensgrootte vrieskoei van staal is die nuutste aanwins tot die Green Valley-diereplaas.
Aletta Dreyer, wat van kleins af fluks op ’n plaas gehelp het, het gesukkel om werk te kry – toe begin haar hande doenig raak met staal.
Sy het in 2019 lampe begin maak, maar dit was die Minion-karakters wat sy in 2021 as tuinornamente gemaak het, wat mense se aandag getrek het.
Op haar beurt het Lynette van der Walt van die Green Valley-diereplaas in Groenvlei Aletta se kunsweke gesien en besluit dit sou die perfekte toevoeging tot dié diereplaas se groot versameling interessanthede wees.
Die eerste staal-ornament wat Aletta vir Green Valley gebou het, is Humpty Dumpty. Daarna het nog ’n hele paar kinderverhaalkarakters gevolg wat mooi aansluit by die ander karakters wat Lynette oor die jare heen hier ingeburger het. Einde verlede jaar het Aletta aan die vrieskoei begin bou.
“Ek hou van uitdagings, en die vrieskoei was ’n lekker uitdaging.”
Die koei moes so groot soos ’n ware een wees, en boonop moes dit spene hê wat kinders kan “melk”.
Dit het Aletta ’n maand en ’n half geneem om die koei te bou.
“Die reën die afgelope twee maande het so ’n bietjie ingemeng met my werk,” sê Aletta.
“Ek moes dié koei van staal buite, in die oprit na ons huis, bou. Bure het gereeld kom vra wat ek dan nou aan die bou is.”
Lynette was opgewonde oor die nuwe aanwins wat vroeg in Januarie sy staan by Green Valley gekry het.
Vir haar is Green Valley ’n toevlugsoord waar kinders regtig kan speel en verskillende diere soos skape, varke, donkies, ’n verskeidenheid voëls, onder meer ’n volstruis en ’n emoe, kan sien.
Benewens die diereplaas kan kinders hulle verlustig in die kinderverhale wat hier uitgebeeld word, met elkeen se storie daarby.
Tussendeur is allerlei versamelings en uitstallings. Dit sluit Lynette se versameling van Coke-aandenkings, blikkies en bottels in wat sy die afgelope 25 jaar bymekaargemaak het. Sy het ook ’n Pepsi-versameling wat sy by iemand anders oorgeneem het.
Vandat Lynette die diereplaas sowat vyf jaar gelede oorgeneem het, het die uitstallings baie uitgebrei. Daar is ’n huisie met ’n apteek; ’n vertrek met ’n ou poskantoor met ’n telefoonsentrale en telefone, waarvan twee van die mure met seëls toegeplak is; ’n musiekkamer met langspeelplate op die vloer; asook ’n kamer vol ou kameras. Lynette rig ook nou ’n eertydse kroeg (“saloon”) en ander klein “museumpies” in.
“Oupas, oumas en ouers kom wys vir kinders hoe telefone, wasmasjiene, televisies en allerlei gebruiksartikels van vergange dae gelyk het. Dit is ’n nostalgiese reis, en vir die kinders ’n manier om te leer oor hoe dinge vroeër gewerk het,” sê Lynette.
“Ek hoop vanjaar is nader aan normaal sodat kinders weer in groepe hier kan kom speel en leer.”
Green Valley is Saterdae en Sondae van 09:00 tot 16:00 oop. Daar is ’n koffiewinkel waar besoekers kan eet en kuier terwyl die kinders rondspeel.
