’n Tweede Plaasjapie is op pad, en in dié kykNET-werklikheidsreeks is daar R1 miljoen-prysgeld op die spel.
Soos met die eerste seisoen gaan 20 deelnemers mekaar die stryd aansê om hul staal en boervernuf te toon.
Plaasjapie is nie op soek na gevestigde boere nie, maar na stads- en dorpsjapies wat smag na die plaaslewe en die uitdagings wat dit bied.
Is jy iemand wat soos ’n boer ’n plan kan maak, ongeag die omstandighede? Het jy al in ’n basiese skuur sonder veel geriewe met 19 vreemdelinge gebly?
Terwyl jy deurentyd bewus moet bly van onderstrominge in die groep, moet jy fokus op take wat voltooi moet word.
Dian Louw van Pretoria was die wenner van die eerste reeks. Hy het soos ’n veteraan draad gespan en skape aangejaag, wat ver buite sy gemaksone as kunstenaar was. Hy moedig mense aan om in te skryf, en sê dis ’n ervaring wat jou hart verander.
Die programaanbieder, Ewan Strydom, het Louw se sukses in Plaasjapie se eerste reeks onder meer daaraan toegeskryf dat hy alles stelselmatig en kalm aangepak het.
Skryf só in
Inskrywing het reeds geopen, en sluit op 25 Augustus. Geen laat aansoeke sal aanvaar word nie.
Gaan na kyknet.tv om ’n aanlyn aansoekvorm te voltooi en jou video (nie langer nie as drie minute) en ’n onlangse foto van jouself op te laai.
Die inskrywingsvideo moet uit die volgende bestaan: stel jouself bekend; vertel meer oor jouself; vertel waar jy nou bly; en vertel hoekom jy ’n Plaasjapie wil wees.
’n Voornemende deelnemer moet ten minste 18 jaar oud wees op die dag dat die inskryfvorm voltooi word.
Enige Suid-Afrikaanse burger met ’n geldige identiteitsdokument kan inskryf.
Verfilming behoort nie langer as 25 dae te neem nie en deelnemers moet in Oktober daarvoor beskikbaar wees.