Op die geselligheid is, van links, Willie Engelbrecht (vooristter van die BAK) en die ontvangers van die eerbewyse prof. André Wessels, Jacobus Silwer, Magda Frey (postuum namens prof. Barry Frey), Dirk Venter en Martie Venter.Foto: Lientjie Mentz


Vyf veelsydige Bloemfonteiners is verlede week vereer vir werk wat hulle op verskillende terreine doen om die Afrikaanse kultuur te bevorder.

Die eerbewyse is 10 Oktober oorhandig op die Bloemfonteinse Afrikaner-kultuurraad (BAK) se jaarlikse eerbewysgeselligheid wat vanjaar by die Universitas-geloofsentrum aangebied is.

Prof. Barry Frey, wat op 19 September aan kanker oorlede is, is postuum vereer. Hy was vir jare die sekretaris van die BAK en het ook al talle eerbewyse vir sy bydrae tot die Afrikaanse kultuur ontvang vir sy werk as deel van die Oranje Rapportryerskorps.

Met sy dood was Frey ook lid van die Nasionale Vrouemonumentkommissie.

Hy is deur die BAK vereer vir sy ywer in die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur op verskeie terreine van die Afrikanerkultuurhuishouding en -gemeenskap.

Prof. André Wessels, gasspreker op die geleentheid, is ook vereer met ’n oorkonde vir sy jarelange bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur, veral op die gebied van die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Die sanger Jacobus Silwer, wat ook die kunstenaar vir die geleentheid was, is vereer vir die musiek en lirieke waarmee hy die Afrikaanse taal en kultuur bevorder.

Silwer en sy vrou wat dekades in Bloemfontein gewoon het, woon sedert 2020 in Fauresmith waar hulle ’n gastehuis, Die Silwer Olyf, en die Karoohuis-teater bedryf waar talle Suid-Afrikaanse kunstenaars gereeld saam met Jacobus optree.

Martie Venter het ’n besonderse oorkonde van die BAK ontvang vir haar jarelange dokumentering van sterfte-kennisgewings en grafskrifte in die Pres. Brandbegraafplaas en ook van ander begraafplase in die Vrystaat. Sy stel ook baie belang in genealogie en het haar eie familieregister tot by die Suid-Afrikaanse stamvaders voltooi.

Die BAK het ook ’n Stille Kultuurwerker-eerbewys aan Dirk Venter oorhandig. Venter en sy ouers, Gert en Magdaleen, werk al sedert 2016 om die Pres. Brand-begraafplaas in Bloemfontein in stand te hou. Dit is danksy hulle dat ’n heining om die Pres. Brand-familiekerkhof opgerig is.

Venter hou ook ’n groot deel van die begraafplaas se tuin in stand en was gereeld die grafte van die staatspresidentpare wat in dié begraafplaas begrawe is.

Bykomend tot die BAK se erkenning, het Venter ook ’n eerbewys van die Federasie van die Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) ontvang om hom te bedank vir sy werk om die Pres. Brand-begraafplaas netjies te hou.

You need to be Logged In to leave a comment.