Elmarie Berry se kosboek The Table is pas as beste Meditereense kosboek in die wêreld aangewys.

‘n Oudleerling van die Hoër Meisieskool Oranje wat deesdae in Somerset-Wes woon en in Mei haar nuwe kosboek in Bloemfontein kom bekend stel het, het ‘n internasionale prys vir dié boek verwerf.

Elmarie Berry se nuutste boek, The Table, is verlede week op die toekenningsgeselligheid van Gourmand World Cookbook Awards as die die beste Mediterreense kosboek in die wêreld aangewys.

Sy het dié prys op Woensdag 18 Junie in Estoril, Portugal, in ontvangs geneem.

“Ek is ongelooflik trots, en kan dit skaars glo dat The Table die gesogte prys gewen het,” het sy oor die prys gesê.

Daar was inskrywings van 82 lande oor die wêreld heen.

Elmarie Berry, wat ‘n Gourmand-eerbewys vir haar kosboek The Table gewen het.

“Om op daardie wêreldverhoog te kon staan en Suid-Afrika te verteenwoordig, was ‘n emosionele en onvergeetlike oomblik,” sê Elmarie.

Die Gourmand-eerbewyse is soos die Oscars van die kookboekwêreld. Dit vereer die beste kosboeke, kosfotografieboeke en kulinêre publikasies van oor die wêreld heen. Slegs die uitblinkers word bekroon.

Dat Elmarie se boek gewen het, beteken The Table word as die beste Meditereense kookboek in die wêreld beskou.

“Dis wêreldwye erkenning en ‘n eer wat bevestig dat jou werk op die hoogste internasionale vlak is.”

Elmarie dra die eerbewys op aan elkeen wat al uit dié kookboek gekook het, aan haar tafel gesit het en ‘n pad van ondersteuning in haar droom geloop het.

The Table van Elmarie Berry is onlangs as beste Mediterreense kosboek in die wêreld gekroon. Credit: Elmarie Berry

In The Table kombineer sy Suid-Afrikaanse resepte met ‘n Libanese invloed.

Elmarie glo dat daar ‘n foto van elke resep in die boek moet wees, so nie net is die resepte oorspronklik en relatief maklik nie, die foto’s wat sy self geneem het, is pragtig.

You need to be Logged In to leave a comment.