Plaaslike padstalle vol verrassings

Dit is nie nodig om ’n lang rit aan te pak om ook lekker padstalletjie-bederfies in Bloemfontein te kry nie.


Die woord “padstalletjie” wek beelde van ’n reis na ’n lekker vakansiebestemming op.

Gelukkig is dit nie nodig om ’n lang rit aan te pak om ook lekker padstalletjie-bederfies in Bloemfontein te kry nie.

’n Splinternuwe padstalletjie, die Oranje Fiets-padstal, is verlede week in Bainsvlei by die Skietwinkel oopgemaak.

Natasja Esterhuizen sê hier is alles van koeksisters en toffie-appels tot geskenke vir mans.

Nog ’n plek waar jy ’n slag kan gaan inloer, is by die Rainbow-padstal langs Lucas Steynweg net duskant die duikweg.

Umke Kruger sê dié stalletjie is bekend vir sy heerlike Karoolam en heuning van korwe uit die omgewing. Daar is ook ingelegte produkte soos nastergal-konfyt, koekies en beskuit en jy kan sommer hier gesuiwerde water ook koop.

’n Heerlike drentel-bestemming waar jy altyd met iets te ete of te drinke wegry, is Yesteryears-deli en antiekewarewinkel oorkant Makro.

Nie net kan klante kom snuffel tussen die mooi antiekeware nie, die deli beskik oor pasteie, konfyttertjies en die lekkerste Gemmerkat-gemmerbier. En wie is nou bestand teen Maria se melktert?

As jy nie idees het vir ’n lekker Valentynsdaggeskenk vir jou geliefde nie, gaan loer gerus by een van die stad se plaaslike ondernemings in. So trakteer jy jou geliefde uit eie bodem.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.