Sy is stylvol en elegant met oplossings vir enige figuur of uitrusting. Die 44-jarige Surene Strydom van Heilbron – ‘n voorkomskonsultant, modeontwerper en deesdae ‘n smaakmaker op sosiale media − se oog vir styl spreek van self.
Haar studio is by haar huis in Heilbron en sy deel advies en mode daagliks op sosiale media.
StylStories is op sosiale media in 2023 begin waar sy daagliks met haar volgelinge oor modes en uitrustings gesels.
Surene het ‘n aanlyn kursus as voorkomkonsultant voltooi en haar man, Leonard Strydom, se entoesiasme daaroor het haar aangemoedig om die nuwe beroep op die proef te stel.
“Ek is dankbaar vir die kreatiewe bloed wat deur my are vloei. Dit is lekker om nuwe en opwindinde uitdagings waar ek my kreatiwiteit kan uitleef, aan te pak. Dit kom vir my natuurlik.”
As ‘n bekwame naaldwerkster wat trou- en matriekafskeidrokke maak, het die tyd agter die naaldwerkmasjien vir haar soms te eensaam geraak. Haar kinders is koshuis toe in Bethlehem en sy het besef sy het ‘n nuwe uitdaging nodig.
“Dit is vir my lekker en ek is passievol daaroor om vrouens te help en goed te laat voel. Die Liewe Vader het my immers met die talent geseën en ek deel dit graag sodat ander mooi en goed kan voel.”
Sy meng gaag verskeie elemente van kledingstukke en bykomstighede saam om die regte vloei en balans in ‘n uitrusting te verseker.
Haar konsultasies bestaan uit drie dele: styl, kleur en klerekasbeplanning. Kliënte se persoonlike behoeftes en voorkeure asook stylpersoonlikheid word eers bepaal, waarna sy vir ses weke aan haar kliënte aanlyn bystand bied.
Sy bied ook persoonlike dienste aan waar sy kliënte help met hul klere aankope om hulle unieke styl te ontwikkel of te verander. Surene beskou haar ook as ‘n grimeerkunstenaar en die tydverdryf het uit die maak van trourokke ontstaan.
Surene sê sy leef haar passie van gr. 11 af al uit toe sy op skool haar vriendin se matriekafskeidrok gemaak het.
Sy is opgewonde om as smaakmaker gesien te word en is dankbaar vir sosiale media platvorms omdat sy oor die wêreld heen haar inhoud met vroue kan deel.
“Ek het ‘n hele paar Suid-Afrikaanse vroue wat my uit ander lande volg en hul terugvoer verbly my hart.”
Surene sê dat mooimaak en tittewyt slegs die oortjies van die seekoei is wat Stylstories betref.
“Ek het besef dat daar baie meer as net daaglikse videos met wenke en uitrustings op my gaan wag.”
Onlangs is sy deur ‘n modewinkel, Die Winkel, in Jan Kempdorp genader om ‘n “unboxing” op sosiale media te doen wat vir Surene ‘n groot eer was.
“Ek is dankbaar om te kan sê dat Die Winkel uitstekende terugvoering uit my plasing ontvang het en die verkope het ingerol.
“Ek het net besef ek doen baie meer as net om vroue te motiveer en mooi te laat aantrek. Ek help ook klein sakeondernemings om te groei. So saai ek in hulle lewens en ondernemings en dit is ‘n onbeskryflike gevoel.”
Haar gunsteling uitrustings is enigiets met luiperdvel-motiewe en sy voeg dit op verskeie maniere by haar daaglikse uitrusings – van handsakke, kopbande of ‘n kledingstuk.
Surene sê hoewel sy geen opleiding as ‘n motiveringspreker het nie, is dit iets wat ook natuurlik kom en sy glo dit is vanwee haar positiewe uitkyk op die lewe.
Sy glo om altyd positief te wees, want dit is aansteeklik en is ook dankbaar vir haar ouers wat haar aangemoedig het om haar kreatiwiteit uit te leef.
■ Surene se man is ‘n boer en sakeman van Heilbron die egpaar het twee dogters: Sulé (19) en Aldi (16).
Sy help ook haar man in die familie se sakeonderneming waar sy hoofsaaklik vir die sosiale media en bemarking van die onderneming verantwoordelik is.



