Die balle het op Vrydag 6 September ter wille van vir ’n goeie saak gerol. Altesaam 28 rolbalspanne van ondernemings, skole en klubs oor Bloemfontein heen het deelgeneem aan BloemNuusse rolbaldag wat ten bate van die grootste welsynsorganisasie in die Vrystaat, Engo, aangebied is.
Elke span het drie wedstryde van ses koppe elk gespeel, en spelers kon mekaar beter leer ken. In die proses kon nuwelinge ook meer van die spel leer. Met inskryfgeld, ’n veiling, lootjies vir ’n gelukstrekking, asook koffie wat ten bate van Engo verkoop is, is meer as R35 000 vir die welsynsorganisasie ingesamel.
Dit sluit in ’n naweek vir vier op die Letsatsi-wildsplaas wat opgeveil is (bod van R5 500), asook ’n skenking van R5 000 deur Adriaan de Bruyn van die VF Plus.
Alda Fourie, bemarkingsbestuurder van Engo, sê die skenking wat met die rolbaldag ingesamel is, gaan aan Engo se sorgverlaters.
Dit is jongmense wat in die sorg van een van Engo se jeug- of kindersorgsentrums is en wat 18 word of matriek voltooi. Engo het begin met ’n program om dié jongmense twee jaar lank by te staan terwyl hulle studeer of begin werk deur vir hulle met verblyf te help, asook om ’n bestuurslisensie te kry.
“Engo help dié jongmense wat deur ’n moeilike tyd in hul lewe gaan en nie altyd iemand het wat hulle kan help om met hul volwasse lewe te begin nie.”
Benewens die volwasse rolbalspanne, het ’n span van vier Vrystaatse junior rolbalspelers – geborg deur die Hoërskool Fichardtpark – ook aan die rolbaldag deelgeneem.
Al die spelers het ’n gratis hamburger en skyfies wat deur Koos Fourie van Steers gereël is, ontvang. Al 28 spanne het pryse ontvang.
Maak jou donasie van R30 en staan die kans om ‘n splinternuwe Renauld Kwid te wen. Volg hierdie skakel Engo PRojek van Hoop