Op die Ysbeerswem-uitdaging by Doringbos Saterdag (01/07) is van links Wilbe en Louise Wilson, Gideon en Maryke Haasbroek en Johan Smith.Foto’s: Lientjie Mentz

Die weer het mooi saamgespeel en dit was ’n heerlike dag toe 45 dapper “ysbere” Saterdag (01/07) die koue water van die Modder­rivier by Doringbos naby die Krugersdriftdam buite Bloemfontein aangedurf het.

Felix Burri, wat al 28 jaar die Ysbeerswem-uitdaging reël, bied dit vanjaar op drie verskillende plekke aan.

p

Felix Burri, die stigter van die Ysbeerswem sê die water in die Modderrivier was maar koud.

In die Goudveld is dit op 24 Junie by die Allemanskraaldam gehou, en die afgelope naweek was dit die beurt van Bloem­fonteiners om in water van sowat 11 °C te swem.

Die geleentheid in Bloemfontein is op die Visarend-kampterrein aangebied, waar deelnemers ’n paar meter in die rivier geswem het. Hulle is deur ’n ywerige groep ondersteuners op die rivieroewer aangemoedig.

“In die water was dit ’n gespartel om by die einde te kom, en ons het maar geglip en gegly met die uitklimslag,” sê Felix.

p

Juliet en Taggart Cooper in ‘n vrolike bui voor die groot swemtog.

Gideon Haasbroek sê hy het die swem so baie geniet dat hy dit sommer twee keer gedoen het.

Deelnemers het kleurryk aangetrek – met pruike, hoede en mussies om “die koue uit te hou”.

’n Viertrekvoertuig-kompetisie is ook gehou, met 25 deelnemers. Johan Greyling en Rudie Botha in hul Suzuki Jimny het die eerste prys gewen.

Nico Ranft en Nico Ranft snr. in ’n Isuzu was tweede, en Clinton en FJay Smith was derde in ’n Mahindra.

Alma Kruger en Lizette Herbst is gereed vir die Ysbeerswem.Foto: Lientjie Mentz

Die jaarlikse “baardveiling” het R5 000 opgelewer, en saam met die hekgeld van R5 500 is R10 500 aan die Therapea-jeugsorgsentrum geskenk.

Soos op die geleentheid in die Goudveld het drie menseredders op die oewer gereed gestaan om enigeen te help indien nodig.

’n Groot span van die Vrystaat-tak van Search and Rescue South Africa (Sarza) was ook op Saterdag se geleentheid. Marco Perreira, voorsitter van die plaaslike tak, sê hulle is sowat 19 vrywillige lede in die Vrystaat wat help met enige reddingsoptrede op moeilike terrein.

Die plaaslike tak het onder meer gehelp tydens die Jagersfontein-slik-ramp en die vloede in KwaZulu-Natal, en van hulle het ook hulp gaan verleen ná die onlangse aardbewing in Turkye.

Vir dapper “ysbere” wat ’n nog groter uitdaging wil pak, word ’n geleentheid ook Saterdag (08/07) in Sutherland aangebied. Volg die Facebook-blad FB Polar bear/ysbeer swem vir meer inligting.

Francois Theron (links) en Johan Lourens met hul Ysbeer-swembroeke.

You need to be Logged In to leave a comment.