Sonet van Zyl, bestuurder van die Kinderkankervereniging in die Vrystaat- en Kalahari-streek, by van die kankerpasiënte wat tans by die CHOC-huis tuisgaan.Foto: Lientjie Mentz


Plakkiedag is die een groot geleentheid in die jaar waarop mense jong kanker­pasiënte kan ondersteun.

“Bloemfontein is die enigste plek in die Vrystaat wat pediatriese onkologiedienste bied,” sê Sonet van Zyl, bestuurder van die Kinderkankervereniging (Choc) in die Vrystaat- en Kalahari-streek.

“Hoewel daar pediatriese onkologiedienste in die Noord-Kaap is, is daar sekere behandelings wat kinders nie daar kan kry nie. Die meeste van hulle moet vir hierdie doel al die pad tot in Bloemfontein reis.”

Choc-huis in Bloemfontein bied meestal verblyf vir kinders uit die Vrystaatse platteland, maar ook vir kinders van die Noord-Kaap, Lesotho en ander streke.

Dié huis, net ’n klipgooi van die Universitas- Akademiese Hospitaal, bied gratis verblyf vir pasiënte en ’n ouer vir die duur van hul behandeling.

Plakkiedag word vanjaar die derde keer nasionaal aangebied.

Individue en ondernemings kan nou reeds hul Plakkiedag-plakker koop sodat hulle op Vrydag 18 Februarie hul ondersteuning kan wys. Plakkers kan teen R10 by Choc-huis by Stegmanstraat 19 gekoop word, maar is ook by PNA-winkels en Tekkie Town beskikbaar.

“Wanneer die plakkers by Choc-huis gekoop word, word die geld direk in ons streek teruggeploeg,” sê Van Zyl.

Elkeen wat ’n plakker koop, kan op 18 Februarie hul plakkies werk of skool toe dra.

“As jy dit doen, ondersteun jy kinders wat deur moeilike kankerbehandeling gaan.”

Van Zyl sê Choc-huis bied nie net ’n heenkome vir kinders wat behandel word nie, maar ook emosionele en praktiese ondersteuning vir ouers en families.

“Elke kind wat die eerste keer na Choc-huis kom, kry ’n omgee-geskenk,” sê Van Zyl.

“Plakkiedag is ’n wonder­like bewusmakingsveldtog wat mense die geleentheid gee om ’n bydrae te maak sodat hierdie dapper kinders se reis ’n bietjie makliker gemaak kan word.”

You need to be Logged In to leave a comment.