Sowat 40 tydelike plakkers-strukture is Vrydag in Happy Valley in Westdene en by die Noordelike Stortingsterrein verwyder.
Bayswater en Parkweg-polisie se Maatskaplike Misdaadbekampingslede het saam met ’n multidissiplinêre span bestaande uit die Mangaung Metro se Wetstoepassingsafdeling en private veiligheidsondernemings Senforce, Pro-Force en Bloemsec en lede van Sektor 2 se Gemeenskapspolisiëringsforum Vrydag van 08:00 af aan Operasie Shanela deelgeneem.
Volgens sers. Mahlomola Kareli was die doel van die operasie om te soek na moontlik vermeende misdadigers, die bekamping van huisinbrake in die omgewing en die beskadiging van infrastruktuur in die omgewing teen te werk.
Die span het in Happy Valley die plastiekstrukture wat hawelose inwoners hier opgerig het, verwyder. Die span is daarna ook na die Noordelike Stortingsterrein wat berug is daarvoor dat besoekers hier aangeval word.
Die tydelike strukture is in altwee plekke verwyder en deur die metro se wetstoepassingsamptenare gekonfiskeer en inwoners van die strukture is deur lede van die polisie ondervra om te sien of hulle moontlik gesoekte verdagtes is. Die polisie het 33 mense ondervra en altesaam 40 strukture is by die twee terreine in die noorde van die stad verwyder.
Die operasie het Vrydag tot 12:00 geduur.