Solidariteit Helpende Hand het ’n skenking van R50 000 van die Virseker Trust ontvang wat spesifiek aangewend gaan word om verligting te bring vir boere in die Jagersfontein-omgewing.
Sowat 160 huisgesinne en ongeveer 600 mense in Charlesville en Itumeleng is geraak toe die diamantmyn se slikdam op 11 September gebreek het.
Talle plase naby dié dorp is ook erg deur die slikdamramp geraak en sommige boere het groot verliese gelei nadat die slik oor hul grond gespoel en skade aan die infrastruktuur aangerig het.
Grootskaalse veeverliese is aangemeld. In een spesifieke geval het ’n boer 90% van sy vee verloor.
Volgens Kobus Venter, Solidariteit Helpende Hand se streeksorganiseerder van die Vrystaat, bedek slik steeds groot stukke landbougrond en weidingsveld. Die slik het ook in die omliggende spruite en Rietrivier ingespoel tot by die Kalkfonteindam.
“Dié water is nie nou geskik vir landbou nie aangesien dit basies net modder is en die boere het groot uitdagings om hulle vee en gewasse van water te voorsien,” sê Venter.
“Daar is nagenoeg 13 plase wat deur die slik geraak word. Die slik het nagenoeg 15 km gestoomroller oor ’n breedte van 1,5 km.”
Water is en bly steeds ? groot behoefte vir die hele gemeenskap. Venter sê die landbougemeenskap het benodig dringend die volgende:
- Ten minste 20 tot 40 watertenks van 5 000 liter;
- Baie meters 32 mm-waterpyp;
- Ten minste veertig tot tagtig waterkrippe;
- Geld om te boor vir grondwater;
- Pompe om water na die watertenks en krippe te pomp;
- Kragvoer vir ooie wat nou lam;
- Voer vir ander vee;
- Draad en boumateriaal om heinings te herstel.
Venter sê die skenking gaan aangewend word om van dié toerusting aan te skaf om iets volhoubaar vir die boere neer te sit wat jare ná die ramp hierdie gemeenskap, sowel as die omliggende gemeenskappe, kan bystaan.
Mense wat geldelike steun wil bied om broodnodige toerusting aan te koop of ander skenkings wil maak, kan ’n e-pos stuur na kobus@helpendehand.co.za of bel hom by 079-488-1964.