Pluimbal-titels wys daar is g’n afsny-ouderdom

Dr. Cynthia Spies is na afloop van die nasionale pluimbal-meesters­kampioenskapsbyeenkoms van 7 tot 12 Mei by die Fichardtpark-sportklub as die beste vrouespeler in die toernooi aangewys, en sy is boonop as die vrou met die hardste mokerhou gekroon.


Dr. Cynthia Spies is na afloop van die nasionale pluimbal-meesters­kampioenskapsbyeenkoms van 7 tot 12 Mei by die Fichardtpark-sportklub as die beste vrouespeler in die toernooi aangewys, en sy is boonop as die vrou met die hardste mokerhou gekroon.

Hierdie prestasies is te danke aan haar vertoning in die vroue-enkelspel, toe sy die hoogaangeskrewe Gail Mccloughlin van Gauteng in die kwarteindstryd met 22-20, 7-21, 23-21 geklop het en ook in die halfeindstryd goeie rekenskap van haarself gegee het. Sy en Julia Steyn, haar spanmaat van Kaapstad, het ook die halfeindstryd in die vroue-dubbelspel gehaal.

Sy het dit met goeie vertonings in die spankompetisie opgevolg, wat die nasionale keurders gedwing het om van haar kennis te neem.

Herbert Miles, wat al sedert hy ’n junior is vir die Vrystaat speel, is die ander Vrystater wat presteer het. Hy het in die mansdubbelspel tot in die eindstryd gevorder.

Die Vrystaat was derde in die spankompetisie, met Boland wat die toernooi gewen het en Oos-Gauteng in die tweede plek.

Spies, ’n senior lektor aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), het eers onlangs begin speel, maar het haar nie hierdeur laat ontmoedig nie.

Sy het as beginner gespeel totdat sy gekies is vir die Vrystaat se veterane-spanne, en hier het sy reeds verskeie titels in die enkelspel verower.

Sy wil graag nou op nasionale vlak presteer en oefen in dieselfde groep as internasionale pluimbalsterre soos Caden Kakora, Robert Summers en Nita Scholtz.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.