Twee van Suid-Afrika se top-pluimbalspelers, Nita Scholtz Albertse en Caden Kakora, oefen nou in Holbaek, Denemarke, in voorbereiding op ’n besige seisoen.
Februarie is ’n belangrike maand vir die Vrystaat se topspelers. Die Afrika-kampioenskapsbyeenkoms word van 13 tot 19 Februarie in Benoni beslis, en die tuisbaan-voordeel kan baie beteken.
Die Bloemfonteiners Scholtz, Kakora en Robert Summers is almal ingesluit in die Suid-Afrikaanse span wat aan die kampioenskap gaan deelneem.
Die spankompetisie word eerste beslis, en die drie se bydrae is van kardinale belang vir ’n Suid-Afrikaanse oorwinning. Die individuele kompetisie wat daarná plaasvind, behels die belangrikste titel wat ’n speler in Afrika kan wen. Vanjaar is daar boonop ekstra motivering, want met die Olimpiese Spele wat volgende jaar in Parys plaasvind, is dit deurslaggewend om as die Afrika-kampioen gekroon te word. Daar is verskeie vereistes om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer, maar die Afrika-kampioen se pad na die spele is aansienlik makliker.
Scholtz het die Afrika-titel al verskeie kere gewen en is ’n sterk aanspraakmaker op die 2023-titel.
Summers het verlede jaar weer die Suid-Afrikaanse titel gemaklik gewen en moet nou die volgende stap neem na die Afrika-titel.
Kakora is die jongste van die drie, maar het reeds heelwat ondervinding op senior vlak opgedoen en is nou gereed om op dié vlak te presteer.
’n Groot voordeel vir hom en Scholtz is dat hulle nou by die Europese pluimballiggaam se sentrum vir uitnemendheid in Holbaek oefen. Hier kry hulle topgehalte afrigting en ook baie sterk kompetisie, want die room van Europa se jong talent oefen hier.
Albei het hierdie geleentheid gekry as deel van hul pryspakket toe hulle hul onderskeie Afrika-titels gewen het: Scholtz as die senior vroue-enkelspelkampioen en Kakora as die junior enkelspelkampioen. Hulle moes eintlik vroeër al daar gaan oefen het, maar die Covid-19-beperkings het veroorsaak dat hulle eers nou kan gaan – wat nou baie goed uitwerk vir voorbereiding vir die belangrike seisoen wat voorlê.
Robert gaan sy voorbereiding vir die toernooi by die nasionale oefensentrum in Benoni doen. Dié sentrum is juis in die saal waar die Afrika-kampioenskapsbyeenkoms aangebied gaan word, en dit gee Robert dus ’n voordeel.