Hy wonder of hy die eerste mens is wat die woorde “walvispiepie”, “tiet” en “tjorts” in ’n akademiese lesing gebruik het.

Só sê Jaco Jacobs, die kinder- en jeugboekskrywer van bykans 200 boeke, oor die 35ste D.F. Malherbe-gedenklesing by die Universiteit van die Vrystaat (UV) wat hy tot groot vermaak van onder andere akademici, digters en skrywers gelewer het.

Dié lesing, wat op Woensdag 15 Maart aangebied is, is in 2020 en 2021 weens die Covid-19-pandemie uitgestel.

“Dit was ’n voorreg om die lesing voor ’n wonderlike gehoor aan te bied,” sê Jacobs.

Prof. Heidi Hudson, dekaan van die fakulteit geesteswetenskappe, het Jacobs voorgestel.

Jacobs, wat saam met sy gesin in Bloemfontein woon, het BA (kommunikasie) aan die UV studeer en sy honneurs in Afrikaans en Nederlandse literatuur daar voltooi. In 2002 het hy die dekaansmedalje vir topstudent in die fakulteit geesteswetenskappe ontvang.

Hy het in sy toespraak, wat ook in Engels vertaal is, gesê hoewel hy die uitdagings van die akademie in sy studentejare geniet het, het sy loopbaan uiteindelik ’n ander rigting ingeslaan. Deesdae doen hy navorsing oor onderwerpe soos “vreemde gebruike vir broccoli, maniere om ’n zombie-apokalips te oorleef – moontlik met die hulp van broccoli – en die voedingswaarde van erdwurms”.

Hy het gesels oor ’n subgenre binne die Afrikaanse kinder- en jeuglektuur wat waarskynlik nie so gereeld in akademiese gesprekke of artikels opduik nie, maar wat hom baie na aan die hart lê: verse vir kinders. Die gehoorlede is teruggeneem na hul kinderdae met kinderrympies en snelsêers soos “Tongknoper” (My liewe neef Louw / My neus jeuk nou / Jeuk my liewe neef Louw /Se neus ook nou?) en AG Vissser se “Ou tant Siena”, wat Jacobs voorgedra het.

“Kleintyd skrik poësie jou nie af nie, maar êrens in ’n kind se latere skoolloopbaan droog dié entoesiasme op.

“Waarom is so min volwassenes poësielesers en -liefhebbers? Waarom is soveel studente, tieners en, kom ons wees eerlik, onderwysers, doodbang vir poësie as dit iets is wat hulle kleintyd geniet het?”

Hoewel kinderverse lig en vermaaklik is, kan die versies wat kinders kleintyd hoor van die belangrikste literatuur wees waaraan iemand blootgestel word, meen Jacobs.

“Herhaling, ritme, patrone – belangrike elemente in die vroeë ontwikkeling van ’n kind – is inherente eienskappe van baie kinderverse.”

Hy het gepraat oor hoe die aanleer van versies onder meer ’n kind se geheue help ontwikkel en met wiskundeprestasie kan help.

“Kinderverse kan en móét ’n eerste tree wees om ’n kind toe te rus met basiese vaardighede, wat later belangrik kan word wanneer daar met meer formele poësie­studie op skool begin word. Want die eerste ding wat jy moet weet, is dat poësie pret kan wees.”

In ’n land met een van die swakste geletterdheidsvlakke ter wêreld kan rympies ’n nuttige hulpmiddel wees om kinders se leesontwikkeling ’n hupstoot te gee, het hy gesê.

Prof. Danie Strauss, navorsingsgenoot aan die Noordwes-Universiteit (NWU) en voormalige dekaan van die fakulteit geesteswetenskappe aan die UV, was ook in die gehoor. Hy sê Jacobs het die veld van kinder- en jeuglektuur op ’n meesterlike manier behandel.

“Dit is voorwaar die sprankelendste D.F. Malherbe-lesing wat ek nog bygewoon het. Dit was ’n briljante voordrag en dit gaan vir die volgende spreker moeilik wees om by Jacobs of Coenie de Villiers (wat die 33ste gedenklesing gelewer het) kers vas te hou.”

You need to be Logged In to leave a comment.