Bertus Maritz is Vrydag 17 Oktober tot drie keer lewenslange tronkstraf gevonnis.

BLOEMFONTEIN. Die slagoffers van die veroordeelde verkragter Jan Gysbert Maritz (57) het Vrydag 17 Oktober emosionele oomblikke beleef nadat regter Soma Naidoo hom tot drie keer lewenslange tronkstraf gevonnis het.

Martiz, ‘n bekende prokureur van Welkom, het voor regter Naidoo verskyn vir vonnisoplegging nadat hy talle pogings aangewend het om die vonnislegging in die Bloemfonteinse hooggeregshof uit te stel.

Maritz het vroeër op 18 aanklagte ingevolge die Wysigingswet op die Strafwet (Seksuele Oortredings en Verwante Aangeleenthede) Wet 32 van 2007, asook ‘n bykomende aanklag van aanranding, terreggestaan.

Jan Gysbert Maritz (57) Vrydag in die Bloemfonteinse hooggeregshof ná sy vonnisoplegging. FOTO’S: Lientjie Mentz

Die seksuele misdrywe het oor sewe jaar tussen 2007 en 2014, in Virginia, Welkom en Odendaalsrus in die Vrystaat plaasgevind.

Al sy slagoffers was onder die ouderdom van 18 jaar toe die misdrywe gepleeg is.

Op 17 Mei 2021 het Maritz aanvanklik onskuldig gepleit. Op 21 Mei 2021 het hy egter formele erkennings ingevolge Artikel 220 van die Strafproseswet, Wet 51 van 1977 gemaak, wat deur die hof aanvaar is.

Gebaseer op hierdie erkennings het die hoogeregshof hom op 16 aanklagte skuldig bevind, insluitend drie aanklagte van verkragting en verskeie ander aanklagte wat seksuele misdrywe teen minderjariges insluit.

Regter Naidoo het voor vonnisoplegging gesê die wyse waarop die oortredings in die saak gepleeg is, is besonder afskuwelik. Hy was ‘n suksesvolle en prominente prokureur, wat deur die gemeenskap vertrou en gerespekteer is.

“Die klaers was baie jonk en weerloos, terwyl die beskuldigde sy vertrouensposisie en sy geld gebruik het om die kinders te beïnvloed om die verdorwe dade te pleeg wat in die aanklagte beskryf word en deur hom in sy gewysigde pleit erken is.”

Regter Naidoo het sy verwere dat hy binne ‘n paar jaar ‘n hartoorplanting moet kry en dat hy aan slaapapnee lei en toerusting daarvoor gebruik, nie as geldige redes beskou om nie tronk toe te gaan nie.

Haar vonnisoplegging vir die aanklagte waarop hy skuldig bevind is, is as volg.

  • Klagte 1: Onsedelike aanranding – 5 jaar gevangenisstraf;
  • Klagte 2: Verkragting – lewenslank;
  • Klagte 3: Seksuele gereedmaking – 8 jaar;
  • Klagte 4: Seksuele gereedmaking – 8 jaar;
  • Klagte 5: Verkragting – lewenslank;
  • Klagte 6: Blootstelling van kinders aan pornografie – 5 jaar;
  • Klagte 7: Blootstelling van kinders aan pornografie – 5 jaar;
  • Klagte 8: Seksuele uitbuiting van kinders – 5 jaar;
  • Klagte 9: Verkragting – lewenslank:
  • Klagte 10: Vervaardiging van kinderpornografie – 5 jaar;
  • Klagte 11: Seksuele aanranding – 3 jaar;
  • Klagte 12: Gedwonge seksuele aanranding – 5 jaar;
  • Klagte 13: Seksuele aanranding – 3 jaar;
  • Klagte 14: Seksuele aanranding – 3 jaar;
  • Klagte 15: Seksuele aanranding – 3 jaar;
  • Klagte 16: Seksuele aanranding – 3 jaar;

Die vonnisse word gelyklopend uitgedien.

Die hof het verder gelas dat Maritz se naam in die register vir seksuele oortreders geplaas word en hy is ongeskik verklaar om met kinders te werk.

Die drie ondersoekende beamptes van die Welkomse afdeling vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings wat die oorspronklike ondersoek gedoen het, was AO Mandie Jacobs, Anjè Tait en Juan Jansen.

Adv. Amanda Beste het aangekla.

Adv. Coenie Pieterse het in opdrag van FC Schilling van Day en Shilling-prokureurs in Kroonstad vir Maritz opgetree.

Maritz is voor sy vonnisoplegging op Donderdag 9 Oktober in hegtenis geneem op klagte van bedrog, diefstal, geldwassery en die oortreding van die regspraktisynsweg ter waarde van R15 miljoen.

Luidens ‘n verklaring van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdade (Valke) spruit die aanklagte uit ‘n bestorwe boedel van ‘n tender wat deur die Matjhabeng-munisipaliteit aan ‘n sekuriteitsmaatskappy ter waarde van miljoene toegeken is. Die munisipaliteit het ‘n uitstaande bedrag van meer as R21 miljoen gehad nadat die dienste gelewer is.

Maritz het Maandag 13 Oktober in die Welkomse hooggeregshof op dié aanklagte verskyn en moet weer op 21 en 22 Oktober in die hof wees.

You need to be Logged In to leave a comment.