Polisie slaan toe op Bloemfontein se suidelike stortingsterrein

Sestien onwettige immigrante is in hegtenis geneem toe die polisie vanoggend toegeslaan het op die suidelike stortingsterrein in Bloemfontein.


Sestien onwettige immigrante is in hegtenis geneem toe die polisie vanoggend toegeslaan het op die suidelike stortingsterrein in Bloemfontein.

Groot rookwalms het vanoggend oor die stortingsterrein gehang nadat strukture klaarblyklik daar gebrand het.

Die polisie het gehoor gegee aan die oproep uit die gemeenskap van onveilige toestande daar nadat twee broers verlede week buite die terrein geskiet is.

Verskeie afdelings van die polisie en personeel van die departement van binnelandse sake en die metro se wetstoepassings-afdeling het aan die optrede deelgeneem.

Vorige wetstoepassing-optredes het ook in September verlede jaar en Mei vanjaar daar plaasgevind.

Volgens kapt. Loraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder, is dit deel van ’n holistiese benadering om kriminele aktiwiteite op en om die stortingsterrein te verminder.

“Toe die polisie vanoggend op die stortingsterrein aankom, was daar reeds brande wat deur die toepaslike owerhede dopgehou word.”

Earle sê daar is 14 mans en twee vroue wat onwettige immigrante is, tydens die operasie in hegtenis geneem. Sy sê geen vuurwapens, ammunisie, dwelms of moontlik gesteelde goedere is gevind nie, maar die sigbare operasie het ’n ernstige waarskuwing uitgestuur dat die polisie enige tyd kan toeslaan.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.