Die polisie is nog op soek na drie verdagtes nadat ’n onderneming in Fleurdal Mall in Bloemfontein vanoggend omstreeks 09:20 beroof is.
Die Parkweg-polisie het om ongeveer 10:00 ’n oproep gekry van die gewapende roof by Fleurdal Mall nadat werknemers die paniekknoppie gedruk het.
Volgens konst. Maselela Langa van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het vyf verdagtes wapens op werknemers gerig terwyl hulle na bewering televisiestelle gesteel het.
Met die hulp van gemeenskapslede is twee verdagtes kort daarna in hegtenis geneem. Langa sê die verdagtes het werksoorpakke aangehad en ’n vuurwapen met ammunisie is in hul besit gevind.
VR-Medical (VRMed) en VR-Security (VRSec) was saam met die polisie op die toneel.
Volgens Pieter du Plessis, woordvoerder van VRSec, het VRMed sewe werknemers asook ’n lid van die publiek vir ligte beserings en skok behandel. Niemand is ernstig beseer nie.
Die twee verdagtes in aanhouding is onderskeidelik 31 en 35 jaar oud. Die polisie soek steeds na die ander drie.
Fleurdal Mall se bestuur het die rooftog by Hi-Fi Corporation bevestig.
Hulle sê die veiligheid van besoekers, personeel en huurders is vir hulle uiters belangrik. Die bestuur van die inkopiesentrum het traumaberading tot beskikking van diegene wat in die rooftog betrokke was, aangebied.
Die bestuur het die polisie, veiligheidsondernemings en die gemeenskap bedank vir hul hulp. Die inkopiesentrum is oop vir sake.
Lede van die publiek wat meer inligting het oor die rooftog, word versoek om die Parkweg-polisiekantoor by 051-507-6027, of die Stop Misdaad-nommer by 08600-10111 te skakel.