Polisie vra hulp met Mimosa-rooftog

Ná drie rooftogte die afgelope vyf maande is sommige huurders en besoekers aan Mimosa Mall bekommerd oor hul veiligheid.


Ná drie rooftogte die afgelope vyf maande, waarvan twee in Junie, is sommige huurders en besoekers aan Mimosa Mall bekommerd oor hul veiligheid.

Boonop is niemand nog in hegtenis geneem ná Vrydag (24/06) se rooftog nie.

Benewens die rooftog Vrydag waarin ingebreek is by die winkel Options en duur artikels gesteel is, sê huurders daar was ook op 17 Junie ’n rooftog by Sportscene en op 18 Februarie is MTN in dié sentrum beroof.

Daar is kommer dat alles nie gedoen word om werknemers in die sentrum en klante se veiligheid te beskerm nie. Daar was egter opsigtelik meer veiligheidswagte in die omgewing van die banke die afgelope week.

’n Verdere uitdaging is beurtkrag wat die sentrum donker laat met winkels wat óf moet sluit vir die duur van beurtkrag, óf hul deure halfpad toe hou om toegang tot die winkels te beheer.

André Rossouw van Mimosa Mall se bemarkingsafdeling sê in ’n verklaring wat die naweek uitgereik is hulle betreur die voorval.

“Die veiligheid van ons klante, huurders en personeel is vir ons van die uiterste belang.”

Volgens Rossouw het agt rowers Vrydag ongeveer 20:20 toegang tot die sentrum se onderste verdieping gekry en ’n klerewinkel van duur goedere beroof. Geen skote is gevuur nie en niemand is in die voorval beseer nie, hoewel omstanders van hul besittings beroof is.

Sers. Sina Mpakane, polisiewoordvoerder, vra mense wat Vrydag van hul besittings beroof is, om dit by die Parkweg-polisiekantoor aan te meld.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.