Die verkiesing van Maryke Davies as nuwe speaker van die Mangaung-metro tydens die raadsvergadering op Woensdag 29 Maart, was ’n groot verrassing.
Dit was boonop ’n geskiedkundige geleentheid toe dié raad die eerste keer sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994 ’n DA-raadslid as speaker verkies het.
Davies sê hulle het op hierdie uitslag gehoop, maar was steeds verbaas toe aangekondig is dat sy Lawrence Mathae van die ANC met 53 stemme teenoor 40 verslaan het.
Aan ervaring in die politieke arena het sy geen tekort nie, en is reeds sedert 2014 ’n raadslid van die Mangaung-metro.
“Ek het grootgeword in ’n huis waar politiek deel van ons lewe was,” vertel sy. Haar pa, dr. Jan Marais, was vir 39 jaar – van 1982 tot 2021 – ’n raadslid in Welkom (Matjabeng).
“Ek onthou hoe ons kinders kleintyd agter op ons Toyota-bakkie saamgery het as my pa gaan plakkate opsit.”
Sy werk sedert 2007 by die DA in Bloemfontein.
“Politiek is vir my baie lekker. Elke dag is anders.”
Sy sê politiek in Suid-Afrika het deur die jare baie verander en raadslede is deesdae soos mini-oproepsentrums wat stringe klagtes van inwoners moet kanaliseer.
“Vir my is Suid-Afrika se politieke landskap lewendig. Die konsep van koalisies maak dit baie interessant.”
Haar grootste doel as speaker is om die raad saam te snoer.
“As ons as raadslede van verskillende politieke partye kan saamwerk, kan ons ’n groot verskil in die metro maak.
“Ek is dalk van die DA, maar ek is almal se speaker. Ek glo ons kan dinge beter maak deur stelsels in plek te kry sodat die metro beter kan funksioneer.”
Sy sê dit is nou van die grootste belang dat ’n stadsbestuurder, en departementshoofde waar vakante poste is en waar die ingrypingspan nou waarneem, aangestel word.
Davies het Maandag (03/04) haar eerste dag in die speaker se amptelike kantoor deurgebring.
“Die naweek wou ek net nog ’n bietjie Maryke Davies wees,” het sy verlede week gesê. “Van Maandag af is ek gefokus op my plig as speaker van die Mangaung-metro.”