Politieke inmenging is verantwoordelik vir 70% van die probleme van die meeste plaaslike munisipaliteite en dit is ook die geval in die Mangaung-metro.

So het die nasionale minister van finansies, Enoch Godongwana, Vrydag (22/07) op ’n spesiale raadsvergadering van die metro gesê waarop hy die nasionale ingrypingsplan en die groep kundiges wat moet help om die munisipaliteit reg te ruk, voorgestel het.

Hy het dit duidelik gemaak dat die professionele bestuur van die munisipaliteit nie deur politiekery in die wiele gery mag word nie.

Op die geleentheid het hy gesê die plan is dat die nasionale ingrypingsplan nie meer as ’n jaar in die munisipaliteit moet werk nie.

“Hoe lank dit sal duur, sal egter deur die metro se samewerking bepaal word.”

Hy het beloof dat hy ten minste vir die volgende drie maande maandeliks die metro sal besoek om te sien hoe sake vorder.

Die nasionale ingryping is vroeër vanjaar net voor pres. Cyril Ramaphoza en die minister van samewerkende regering, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, se besoek aan die stad aangekondig. Die metro is sedert April vanjaar onder nasionale administrasie.

Gondongwana het op Vrydag se vergadering gesê dat die stad onder nasionale administrasie geplaas is omdat daar geen sigbare verbetering was in sy geldsake of dienslewering in die tydperk waarop die Vrystaatse provinsiale regering sedert Desember 2019 ingegryp het by die bestuur van die metro nie.

Hy het gesê die doel met die ingrypingspan is nie om die bestuur oor te neem nie, maar om in toesighoudende hoedanigheid ondersteuning te bied.

Die uitvoerende burgemeester, Mxolisi Siyonzana, het aan die minister gesê die metro is in die moeilikheid en ondersteun die ingryping.

You need to be Logged In to leave a comment.