Die kinders stroom na die Laerskool Willem Postma in Dan Pienaar se biblioteek nadat ’n ywerige biblioteekjuffrou danksy ’n borgskap nuwe boeke kon aankoop.
Aninka Senekal sê die boeke in die skool se biblioteek was stokoud.
“Baie van die boeke dateer uit 1969 en die laaste boeke wat die skool se biblioteek van die departement ontvang het, was in die jare 1980’s.”
Sy sê daar was so 15 000 boeke waarvan hulle besluit het om 8 000 boeke weg te gee. “Die probleem wat dat die boeke so oud is, dat niemand dit wou hê nie. Ons het toe gehoor van die skool op Groblershoop wat ’n groot behoefte aan leesboeke het en ons het dit vir hulle geskenk.”
Concept Wealth van Sanlam het ’n skenking van R20 000 gemaak en die skool het nog R20 000 bygedra waarmee Senekal 300 splinternuwe boeke kon koop.
“Die nuwe boeke het ’n reuse-verskil gemaak. Kinders kan nie wag om biblioteek toe te kom en hulle sit gereeld langpouse die biblioteek vol en lees. Ek sien ook gereeld hoe een van die mediasentrum-prefekte aan die lees raak en nie weer kan ophou nie,” skerts sy.
Die biblioteek met sy nuwe boeke is Woensdag 13 Maart geopen en die mediasentrum-prefekte en hul ouers was daar om die geleentheid te vier.
“Ons moet ons kinders aanmoedig om te lees,” sê Senekal. “Ons wil so graag nog duisende boeke hier in die biblioteek aanhou sodat kinders kan aanhou lees en die vreugde van stories kan geniet.”
Bloemfonteinse kinderboekskrywer Marita van Aswegen het ’n paar van haar boekies in haar Roosville Raaisels-reeks: Die Vlinderdief aan die biblioteek geskenk.
Senekal sê dit is ’n wonderlike gebaar en sy hoop nog baie mense skenk boeke aan die biblioteek.
“Hierdie biblioteek is nie waar my droom ophou nie,” het sy op die geleentheid gesê. “Ek droom daarvan om ’n satelliet-biblioteek en boeke-sentrum op die skoolterrein te open waar lede van die gemeenskap en inwoners van bejaardesorgsentrums boeke kan kom uitneem. ’n Plek waar kinders in veiligheid kan sit en lees en waar hulle saam met ander boekwurms kan kuier.“
Sy sê sy onthou nog goed die dae toe hulle in die biblioteek in die middestad boeke uitgeneem het. “Dit is nie meer dieselfde nie. Mense smag na boeke en dit is so lekker om te sien hoe kinders die boeke lees.”
Senekal sê die kinders geniet boeke van skrywers soos Jaco Jacobs, David Walliams, Fanie Viljoen en die oulike Waar’s Willie-reekse waar kinders tussen duisende prentjies na Willie moet soek.
“Die kinders soek ook nog graag Engelse boeke.”
Sy glo hierdie is die begin van ’n opwindende projek waar hulle die skool se biblioteek bietjies-bietjies gaan uitbou.
“Ons wil graag nog biblioteekaande, poppekasteaters en ander lekker geleenthede aanbied wat kinders sal lief maak vir lees en stories.”