Wie het die wenresep vir die lekkerste potjie? Spanne kan op Saterdag 31 Mei teen mekaar meeding, en besoekers kan kom proe watter potjiekos hul gunsteling is. Foto: Lientjie Mentz

Potjiekoskonings word uitgedaag om op Saterdag 31 Mei teen mekaar mee te ding en te kook om ‘n goeie saak te ondersteun.

Solidariteit Helpende Hand bied die kompetisie by die Vrystaat-nasorgsentrum aan om geld vir Solidariteit se studiehulpfonds in te samel.

Daar is nog plek vir vyf spanne van vier lede elk om ‘n nr. 6-pot, of twee nr. 3-potte, se potjiekos te maak, met die bestanddele van hul keuse.

Spanne kan van 07:00 af op braaiers of gas begin kook sodat dit teen 12:00 gereed is vir beoordeling. Elke span bring sy eie bestanddele, ‘n gazebo, stoele en tafels.

Besoekers koop kaartjies teen R50 by die hek waarmee hulle vyf van die potte se kos kan proe en vir hul gunsteling stem.

Die wenpot word dus deur die gemeenskap gekroon.

Die oggend begin met stap deur die veld, aangebied deur die Vrystaat-nasorgsentrum in samewerking met PSG Donald Murray.

Zak Steyn maak die musiek, en daar is talle stalletjies waarby besoekers kan rondsnuffel en koop.

Die kos wat oorbly, word aan die sentrum geskenk.

Die beste potjie en wenstalletjie word om 14:30 gekroon.

Inskrywing vir spanne kos R300.

Rig navrae aan Marli Buys by marli@helpendehand.co.za of bel haar by 082 977 3614.

You need to be Logged In to leave a comment.