William Wolf is op 20 Mei die hoofkunstenaar wat optree tydens die #PickaPotjie-potjiekoskompetisie.Foto: Argief


Bloemfonteinse sanger en onderwyser William Wolf is die gaskunstenaar tydens die #PickaPotjie-potjiekos­kompetisie, wat op 20 Mei ten bate van die Dr. C.F. Visser-skool by dié skool aangebied word.

Spanne kan hulle nog tot 15 Mei vir die opwindende kompetisie inskryf.

Pick n Pay Reizis Square is die hoofborg van die geleentheid en gaan saam met Bloemnuusen Radio Rosestad elk ’n gereg in ’n reuse-pot maak. Die potjiekos word saam met dié wat deur die res van die deelnemende spanne gemaak word ten bate van die skool verkoop.

Ander spanne van nie meer nie as vier deelnemers elk gaan dit uitspook om lekker pryse.

Die meeste van die deelnemers se bestanddele (80%) moet by Pick n Pay Reizis Square gekoop word, en hulle moet hul betaalstrokies die oggend van die kompetisie saambring om in aanmerking vir die kompetisie te kom.

Daar gaan pryse wees vir die beste potte, die kreatiefste pot en die beste stalletjie, waarvoor besoekers sal kan stem.

Spanne kan hulle inskryf om deel te neem aan boeresport, die kinders sal kan deelneem aan ’n braaibroodjie-kompetisie en daar sal ’n pretpark vir kinders wees.

Kaartjies vir die Beesdrop­kompetisie gaan teen R10 by die skool verkoop word.

Nog heelwat aktiwiteite en vermaak word beplan.

Daar sal ook ander stalletjies wees, wat onder meer iets te ete en te drinke sal verkoop.

Potmakers sal al om 06:30 kan begin om hul gereg te maak, met die vleis van hul keuse, en die potjiekos sal tussen 12:30 en 15:00 verkoop word.

Teken die datum in jou dagboek aan en maak jou span bymekaar vir die groot pret.

Inskrywing kos R100 per span. Die vorms is by Pick n Pay Reizis Square beskikbaar, of kan by die skool gekry word deur ’n e-pos na drcfvisser@gmail.com te stuur.

You need to be Logged In to leave a comment.