Die span van BloemNuushet ook verlede jaar potjiekos gemaak en gaan dit vanjaar weer doen.Foto: Lientjie Mentz


Daar is net ’n maand oor om in te skryf vir vanjaar se Pick n Pay Pick-a-Potjiekompetisie wat op 25 Mei by die Laerskool Dr. C.F. Visser aangebied word.

Die span wat die lekkerste potjiekos maak, staan die kans om ’n koopbewys van R3 000 van Pick n Pay Reizis Square te wen.

Soos vorige jare gaan die potjiekos-konings en -koninginne sake uitspook om die beoordelaars met hul potjiekos te beïndruk.

In die proses kan gaste tussen die stalletjies drentel en self kies uit watter pot (of potte) hulle wil eet.

Deelnemers aan die Pick-a-Potjie-kompetisie kan kies of hulle potjiekos wil maak met beesvleis, skaap, hoender of enige ander vleis – soos afva en wildsvleisl. Verlede jaar was daar selfs ’n mosselpot.

’n Bonus vanjaar is dat die De Oude Kraal Country Estate & Spa wildsvleis skenk vir avontuur­lustige potjiekosmakers wat kans sien vir ’n wildspot.

Marie Lombard van De Oude Kraal sal uit die potjiekos wat met die vleis verskaf van De Oude Kraal gemaak word, ’n wenner aanwys.

Die wenner in dié afdeling van die groter kompetisie wen twee kaartjies van R595 elk vir die De Oude Kraal WildsKOSfees en moet op die fees op 9 Junie op De Oude Kraal ook ’n pot maak en ’n stalletjie beman sodat besoekers aan die fees van dié pot kan proe.

Die meeste van al die bestanddele wat gebruik word (ook die wildspotte) moet by Pick n Pay Reizis Square gekoop word, en die kwitansies moet die dag van die kompetisie aan die beoordelaars getoon word. Al die potte (wildsvleis ingesluit) sal beoordeel word en staan die kans om pryse te wen.

Inskryfgeld is R100 per pot, en deelnemers kan om 07:00 begin. Tien porsies moet uit elke pot geskep kan word,

Besoekers kan bakkies potjiekos koop, en al die geld wat met verkoop van die potjiekos gemaak word, gaan aan die skool.

Kry inskryfvorms en meer inligting by die Dr. C.F. Visser-skool of by Pick n Pay Reizis Square.

BloemNuus en Radio Rosestad is die mediaborge vir vanjaar se Pick-a-Potjie-kompetisie.

You need to be Logged In to leave a comment.