Lucielle Kreling (links) en Anché de Bruin by Bloemnuus se groot pot.Foto’s: Lientjie Mentz


Van slakke in ’n romerige pot, tot koedoe en heerlike skaapskenkels.

Dit was alles bestanddele in potte wat vir die #Pick-a-Potjie-kompetisie ingeskryf is wat Saterdag (20/05) by die Laerskool Dr. C.F. Visser in Estoire ten bate van die skool aangebied is.

Pick n Pay Reizis Square met media­borgeBloemnuusen Radio Rosestad het saam met die personeel van Dr. Visser aan ’n dag vol pret en plesier vir oud en jonk gewerk.

Die drie hoofborge het ook elk ’n reuse-pot gemaak waarvan gaste kon eet.

Tien spanne het dit in die kompetisie uitgespook en die koedoe-pot wat Juanita Callis en haar span gemaak het, het hulle die wenprys van R3 500 besorg.

Eunice Makheta was tweede en Marie Beukes derde. Beukes en haar span het ook die prys vir die beste atmosfeer by ’n stalletjie ontvang.

Riekie Venter, hoof van Dr. Visser, sê die blootstelling wat die skool tydens die potjiekosdag en die beesdropkompetisie gekry het, was iets besonders.

“Mense van oor die stad heen het hulle vir die kompetisie ingeskryf,” sê sy.

“Dit is die lekkerste, dat daar ook deelnemers aan die anderkant van die stad was wat nie deel van ons skoolgemeenskap is nie.”

Sy het vir David Garrett en sy span van Pick n Pay Reizis Square bedank vir hul groot aandeel in die dag, asook Bloemnuus en Radio Rosestad, wat die dag saam met die skoolgemeenskap en besoekers geniet het.

You need to be Logged In to leave a comment.