Die Genealogiese Genootskap gaan mense wie se Afrikanerfamilie die trek van Angola na Suidwes-Afrika in 1928 meegemaak het, die geleentheid bied om hul herinneringe met die publiek te deel.
Ester le Grange gaan byvoorbeeld op die geleentheid op Saterdag 11 Mei gesels oor haar pa wat een van dié epiese trekkers was.
Daar is baie geskryf oor die Dorslandtrekke vanaf die Zuid-Afrikaanse Republiek (Transvaal) vanaf 1874 – oor die wel en wee van die trekgroepe, hul trekroetes en tydelike standplase – totdat hulle hulself vir 48 jaar in Humpata, Angola, gevestig het. Daar is min inligting oor wat uiteindelik van hulle geword het.
Die sluier gaan hieroor gelig word in ’n praatjie deur dr. Petrus Krige. Hy gaan kortliks gesels oor hoe die Afrikanerfamilies in Angola beland het en hoe hulle daar geleef het, maar dan gaan hy ondersoekend kyk hoe die meeste van hulle uiteindelik as boere in die samelewing van Suidwes-Afrika opgeneem is. Dit gaan aangebied word in die vorm van ’n tydlyn om historiese verbande te kan waarneem.
Daar is ’n Bloemfonteinse WhatsApp-groep van “Oud Suidwesters” wat besondere belange hierby het, want sommige van hulle is nasate van die Dorslandtrekkers wat in Suidwes-Afrika geëindig het. Suidwes-Afrika se administrateur AJ Werth het in 1928, met die ondersteuning van JBM Hertzog, ál die Afrikanerboere, wat toe in Angola was, na Suid-Wes gebring. Plase is aan hulle toegeken in die noorde en ooste, veral in die Gobabis-distrik.
Onder die belangrikste families wat betrokke was, is Du Plessis, Opperman, Van der Merwe, Grobler, Swart, De Klerk, Van der Walt, Labuschagne en Venter; almal lidmate van die Gereformeerde Kerk.
Die byeenkoms vind Saterdag om 14:00 plaas in die Bloemfontein Argief in Badenhorststraat (buite die suid-oostelike hek van die Universiteit van die Vrystaat). Toegang is gratis.