Albé Grobbelaar, circa 1980, in die opname-ateljee in Kaapstad. Foto: Verskaf


Met beter tegnologie tot sy beskikking en ’n leeftyd se kennis – maar dieselfde hoeveelheid geesdrif – bring joernalis en radioman Albé Grobbelaar 40 jaar later weer geskiedenisbrokkies na die luisteraar.

Albé het sy loopbaan as omroeper by die SAUK se Afrikaanse Radiodiens in die 1980s begin.

Dit is hier waar hy een oggend vol bravade aangebied het om daagliks ’n program oor historiese hoogtepunte uit te saai.

Sy baas, Johan Stemmet (nie die sanger nie), het hom ongelowig aangekyk: “Enigiemand kan een of twee ‘mooi’ radiopraatjies skryf en aanbied. Maar kan jy vyf dae ’n week, 52 weke van die jaar, iets sinvols saamstel wat aan elke dag se datum gekoppel kan word?”

Albé sê die wind was skoon uit sy seile. Hy het besef hy sal eers baie werk moet insit en baie boeke moet lees.

“Ek moes in my eie tyd navorsing doen. Vir 18 maande het ek aand ná aand – en selfs vakansies – alles gelees waarop ek my hande kon lê. Onthou, dit was lank voor die internet en Google. Ek het boeke, ensiklopedieë, koerante en tydskrifte gefynkam en in ’n notaboek noemenswaardige datums neergepen totdat ek genoeg vir elke datum gehad het.

“Op 1 Februarie 1982 het ek my eerste poging van “Historiese Almanak” op die program Monitor uitgesaai. My vryskut-fooi daarvoor was R5 per praatjie.”

Vir meer as tien jaar het Albé daagliks dié praatjie aangebied. In 1985 het hy na Bloemfontein verhuis, en in hierdie jaar is hy ook deur die Boekenhout-uitgewers genader om ’n boek met van die staaltjies uit “Historiese Almanak” uit te gee.

Soms het dit moeilik gegaan, omdat alles in die ateljee opgeneem moes word.

“Die een oggend waarop ek nie op my pos was nie, was toe ek met die vloede in 1988 halflyf in water in ’n telefoonhokkie in Petrusburg gestaan het en benoud my Monitor-kollegas probeer bel het om te sê ek is nie naby my geskiedenisboeke in Bloemfontein om my praatjie uit te saai nie.”

Jare later, op 28 Februarie, het ’n afgetrede Albé weer begin om dié program aan te bied. Dit word nou weekdae op MedFM en PretoriaFM uitgesaai.

“Ek het vir Heléne van Niekerk van MedFM gevra of sy sou belang stel dat ek dié praatjie vir hulle opneem. Sy het dadelik ingestem.

“Nou, anders as jare gelede, neem ek dit op my slimfoon op en redigeer dit sommer in my studeerkamer voordat ek dit deurstuur. Boonop het ek die internet om allerlei interessante feite by te voeg.”

Albé het nog al die notas van jare gelede en geniet dit nou weer om interessante, onbekende staaltjies met luisteraars te deel.

  • Benewens sy jare as omroeper, onder meer as stigterslid van die destydse Radio Oranje, was hy ook verslaggewer vir televisienuus en dosent in joernalistiek aan die Universiteit van die Vrystaat van 2009 tot 2017. “Historiese Almanak” word weekdae om 06:55 en weer om 11:15 op MedFM in Bloemfontein uitgesaai.

You need to be Logged In to leave a comment.