Die provinsiale rede vanoggend deur premier MaQueen Letsoha-Mathae het weinig hoop gebring vir die inwoners van die Vrystaat, wat ‘n beter toekoms verdien. Armand Cloete, VF Plus-provinsiale wetgewerlid, het die geleentheid by Lemo Green Park in Heidedal as ‘n mors van tyd en belastinggeld beskou.
In ‘n nuusverklaring het dr. Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaat, sy teleurstelling uitgespreek oor die premier se toespraak. “In plaas van werklike oplossings vir die provinsie se probleme, het sy dieselfde ou narratief van hoop en optimisme herhaal, sonder enige duidelike aksieplanne,” het Jankielsohn gesê.
Cloete sê die premier moet verskoning vra dat die provinsie onder haar party onherkenbaar verniel is en munisipaliteite mislukkings is waar gemeenskappe vir weke sonder water is.
Letsoha-Mathae het in haar toespraak genoem dat 1 232 gesondheidswerkers, insluitend dokters en verpleegkundiges, die afgelope jaar aangestel is, en dat meer in die komende jaar aangestel gaan word. Sy het egter geen noemenswaardige aksies oor die dringendheid van hospitaalherstellings genoem nie, en het oor die geslote staatslykshuis in Bloemfontein net gesê hulle het planne om dit reg te stel.
Cloete het daarop gewys dat die premier se rede nie die werklike uitdagings in die gesondheidsorgsektor aanspreek nie, soos die lang waglyste en die haglike toestande in hospitale en klinieke.
“In plaas daarvan om die kritieke uitdagings soos korrupsie, die provinsie se swak infrastruktuur, die vervalle gesondheidsinstellings en geldelike wanbestuur in departemente en munisipaliteite aan te spreek, het sy net enkele geïsoleerde suksesse en vae planne genoem,” sê Jankielsohn.
“Dit lyk of die premier in haar eie realiteit leef, wat baie verskil van die realiteit van talle verarmde, werklose en desperate inwoners in die provinsie.”
Letsoha-Mathae het in haar toespraak gesê dat daar in die Vrystaat 1,1 miljoen mense is wat van maatskaplike toelae afhanklik is. Sy sê die regering is vasbeslote om hierdie mense uit armoede op te lig en hul potensiaal te bereik, maar gee geen noemenswaardige planne oor hoe dit gaan gebeur nie.
Jankielsohn sê die premier was wel reg oor een ding, en dit is dat dinge moet verander.
“Die premier het vandag vir meer as ’n uur niks nuut gesê nie, behalwe dat haar party sy verbintenis met China verder gaan versterk,” het Cloete in ’n nuusverklaring gesê.