Premier met Covid-19 gediagnoseer

Drie hooggeplaastes van die Vrystaat se regering, onder andere die Vrystaatse Premier, Sisi Ntombela, is met Covid-19 gediagnoseer.


Sisi Ntombela

Premier Sisi Ntombela
Die Vrystaate premier, Sisi Ntombela, is Maandag (13/10) met Covid-19 gediagnoseer.

In ’n nuusverklaring wat Dinsdag uitgereik is, sê die woordvoerders van die betrokke departemente nog twee hooggeplaastes in die Vrystaatse regering, die LUR vir gesondheid, Montseng Tsiu, en die direkteur-generaal van die Vrystaatse regering, Kopung Ralikontsane is die naweek positief vir die virus getoets.

Ntombela gaan voort met haar werk terwyl sy in isolasie is.

Tsiu ontvang volgens die verklaring mediese behandeling.

Die Vrystaat het nou die meeste gevalle per 100 000 van die bevolking in die provinsie.

Volgens die departement van gesondheid het die Vrystaat Dinsdag(13/10) 15 902 aktiewe gevalle gehad.

Dr. David Motau, hoof van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, het aan Marietjie Gericke van Volksblad gesê die getalle in die Vrystaat is inderdaad besig om te styg, maar dit is ook die geval in die res van die land.

“As ons na die Vrystaat se daaglikse nuwe gevalle kyk, sal ’n mens skrik, maar as jy na die gemiddeld per week kyk, kom jy agter daar is ’n redelike mate van stabiliteit en dit is nie so erg nie.”

Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse departement van gesondheid, sê daar was Maandag 178 nuwe gevalle van Covid-19 in die Vrystaat. Die herstelkoers is nou 70% in die Vrystaat.

Dit is bevestig dat daar teen Maandag altesaam 1 166 mense in die provinsie aan die virus gesterf het. Die meeste van die sterftes kom voor onder mense in die ouderdomsgroep 55 jaar tot 64 jaar.

Dr. Freek Bester, Bloemfonteinse internis, het aan Gericke gesê hy verwag dat die siekte vir die volgende twee tot vier weke weer ’n piek sal bereik.

Dit is omdat die inperking na vlak 1 verlaag is.

“Die feit dat die inperkingsmaatreëls verslap is, beteken egter nie dat mense ook gemakliker moet begin raak nie.

“Mense sal nou meer persoonlike maatreëls moet tref om hulself te beskerm.

“Dit is belangrik om minder te sosialiseer en om by die regulasies te bly.

“Dra maskers, was gereeld hande en hou ’n sosiale afstand selfs wanneer jy gaan uiteet.”

Ntombela sê in die verklaring die groot uitdaging is dat daar gemeenskappe is wat nie die regulasies volg nie en wat hul eie en ander se lewe in gevaar stel.

“Dit is belangrik om daarop te let dat baie mense wat die virus opgedoen het, nie simptome toon nie en steeds ander kan aansteek.

“Dit is belangrik dat ons keer dat daar nie ’n nuwe vlaag of vinnige toename in infeksies is nie.”

Mense wat positief vir die virus toets en nie veilig by die huis kan isoleer nie, kan navraag doen oor veilige en gratis regerings-isolasiegeriewe.

Rig navrae by die Covid-19 inbelnommer deur 0800-535-554 te skakel. 
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.