Presterende sportlui in Bfn vereer

Die Bloemfonteinse atleet Louzanne Coetzee se twee medaljes op die 2021 Paralimpiese Spele het alle ander uitstekende sportprestasies van Vrystaatse sportlui oortref.


Die sportman van die jaar uit nege nominasies is Kobus Barnard vir boogskiet (links) en Donna le Roux is aangewys as die sportvrou van die jaar uit 16 nominasies.Foto: Lientjie Mentz

Die Bloemfonteinse atleet Louzanne Coetzee se twee medaljes op die 2021 Paralimpiese Spele het alle ander uitstekende sportprestasies van Vrystaatse sportlui oortref.

Haar bronsmedalje in die marathon (T11-T12), ’n wêreldrekord vir haar klas in dié item asook haar silwermedalje in die 1 500 m (T11) het saam met haar ander prestasies seker gemaak dat sy aangewys word as die Vrystaatse departement van sport, kuns, kultuur en rekreasie se algehele sportster van die jaar.

’n Geselligheid is Vrydag (23/09) in die President-hotel aangebied om sportlui vir prestasies die afgelope jaar te vereer.

Coetzee en haar gidse Claus Kempen (vir die marathon) en Estean Badenhorst (vir die baanitem) is ook bekroon in die afdeling sportvrou van die jaar met ’n gestremdheid.

Coetzee en Kempen neem Saterdag (01/10) aan die London-marathon deel om te kwalifiseer vir die 2024 Paralimpiese Spele.

Die atleet Kesa Molotsane is aangewys as administrateur van die jaar.

Die span van die jaar is die Vrystaatse boccia-span. Op die geselligheid was voor van links Naledi Maria Nhlapo (finalis: sportvrou van die jaar met ’n gestremdheid) en Karabo Morapedi (wenner: sportman van die jaar met ’n gestremdheid en wenner: publieke keuse Sporster van die jaar); agter: Inge Pieterse (finalis: vrywilliger van die jaar), Marisa Potgieter (afrigter: Vrystaatse bocciaspan) en Vincent Ramochela (Karabo se assistent).Foto’s: Lientjie Mentz

Kobus Barnard, oor wie Bloemnuus Donderdag (22/09) berig het oor die silwermedalje wat hy op die wêreldboogskietbyeenkoms in veldskiet in Estland behaal het, is aangewys as sportman van die jaar.

Bloemfonteinse tennisster Donna le Roux is aangewys as die sportvrou van die jaar. Sy het vroeër vanjaar haar eerste junior toernooi van die Internasionale Sportfederasie as promotorskeuse gewen. Sy is deel van die Hoër Meisieskool Oranje se eerste tennisspan wat al in 13 wedstryde geseëvier het en die Amanda Coetzer-toernooi én die Gerrie Berner-toernooi in Stellenbosch gewen het.

Karabo Morapedi is aangewys as die sportman van die jaar met ’n gestremdheid vir sy deelname aan boccia.

Morapedi is ingesluit in die Suid-Afrikaanse span wat in Desember aan die Wêreldkampioenskap vir Boccia in Rio de Janeiro gaan meeding.

Hy is ook deel van die Vrystaatse boccia-span wat as span van die jaar aangewys is.

Lize-Marie Kruger is aangewys as nuweling van die jaar vir haar deelname in swem.

Die afrigter van die jaar is Zachous Nechodemus Banyana vir karate.

Die Vrystaatse krieketunie is aangewys as die provinsiale federasie vir die jaar.

Lientjie Mentz, redakteur van Bloemnuus, is aangewys as die departement se joernalis van die jaar.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.