Dapper swemmers kan uitsien na die pret van die Ysbeerswem-uitdaging by Doringbos, vanjaar op Saterdag 5 Julie. Foto: Lientjie Mentz

Dapper manne en vroue kan op 5 Julie by Doringbos buite Bloemfontein deelneem aan die jaarlikse Ysbeerswem-uitdaging in die Modderrivier.

Felix Burri, organiseerder van die geleentheid, sê daar sal vanjaar ‘n spesiale swemgat voorberei word.

‘n Uitgebreide program wag, met aktiwiteite wat insluit versnelritte van lanbouvoertuie (Bloem Agri Drags) – trekkers, bakkies en sportnutsvoertuie gaan deelneem oor ‘n kwartmyl.

Burri sê daar gaan sowat 40 uitstallers en kostalletjies wees.

Boeresport met ‘n kinkel word aangebied, vir alle ouderdomsgroepe.

‘n Mesgooikompetisie in samewerking met die Bloemfontein-messmakersklub gaan ook aangebied word. ‘n Grootkampioen sal aangewys word en jaarliks sy of haar titel moet verdedig. Gooimesse word voorsien.

Pryse in elke resiesklas van die snelritte, elke boeresport-nommer en mesgooi is op die spel.

Die dag se bedrywighede begin om 08:00, met die Ysbeerswem-uitdaging om 12:00 en die middernagswem-uitdaging wat om 23:00 aangedurf word.

Vir laasgenoemde is ‘n yslike medalje op die spel.

Tussen 50 en 100 swemmers word verwag.

Op die pretveiling tydens die prysuitdeling gaan verskeie bruikbare en versamelbare artikels opgeveil word.

Die jaarlikse Ysbeer-baardveiling gaan ook weer vanjaar plaasvind. Die langste baard het verlede jaar R5 800 opgelewer.

Na afloop van die veilings en prysuitdeling sal ‘n vermaaklikheidskunstenaar optree.

Hekgeld vir die dag is ‘n skenking van R100 per voertuig.

Deelname aan die wedrenne kos R250 per bestuurder.

Die swem kos R100 vir die dagswem en is net vir swemmers tien jaar en ouer.

Belangstellendes kan Burri by 082 851 4584 kontak vir meer inligting.

■ Die begunstigdes van die geleentheid is diens- of welsynorganisasies soos Search and Rescue South Africa (Sarza) se takke in Bloemfontein en die Goudveld, en die CHOC-huis en Bloemfontein Hospice.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article