Inwoners van die Vrystaat-nasorgsentrum kon ervaar hoe dit voel om te skubaduik.
Dit was danksy die vrywilligers van die Handicapped Scuba Crew wat op Saterdag 14 Oktober in Bloemfontein gekuier het om inwoners van die Vrystaat-nasorgsentrum en ander gestremde lede van die publiek in die sentrum se swembad touwys te maak oor skubaduik.
Dean Conde, een van die instrukteurs wat vyf jaar gelede sy opleiding om met gestremdes te werk in Bloemfontein voltooi het, sê daar is soveel voordele vir mense met gestremdhede om te leer om te skuba.
“Dit is nie net wonderlik vir rehabilitasie nie, maar trek ook mense wat meestal randfigure in die samelewing is, in by ’n lekker aktiwiteit. Skubaduik is iets wat ’n mens as familie saam kan doen. Dit bou bande.”
Dimitri Marais (13), ’n leerling van die Martie du Plessis-skool wat serebraal gestemd is en vir die skool se eerste muurbalspan speel, was ywerig om te leer skubaduik.
Met sy duikpak aan en ’n suurstofbottel op sy rug, het Dean vir Dimitri eers net aan die kant van die swembad gewys hoe om deur die toestel asem te haal.
Sommer vinnig het Dimitri gesnap hoe dit werk en het hy soos ’n wafferse ervare skubaduiker heen en weer deur die swembad geswem.
Die sanger Mathys Roets wat die vorige aand saam met Jacobus Silwer ’n vertoning ten bate van die Vrystaat-nasorgsentrum aangebied het, het kom deel in die pret by die swembad.
Inwoners het heerlik met hom gesels en almal wou ’n foto saam met Mathys neem.
Die groep het Sondag in die dieper swembad by die Hoërskool Jim Fouché gaan swem om hul ervaring te verbreed.
Francois Prinsloo, direkteur van die nasorgsentrum, sê inwoners sal dié naweek nooit vergeet nie.
’n Mens kon aan die laggende gesigte sien hoe hulle dié ervaring geniet.