Gereed vir die groot pret. Die drie spankapteins wat saam met hul spanne elk groot potte gaan maak, is van links, voor: Lientjie Mentz (Bloemnuus), Alinah Ntsau (Pick n Pay Reizis Square) en Selma Rossouw (Radio Rosestad)

Die potte gaan prut en die publiek sal heerlik kan smul aan potjiekos tydens die tweede #PickaPotjie-kompetisie aangebied ten bate van die Dr. C.F. Visser Laerskool.

Spanne kan hulle nou reeds teen R100 per span inskryf vir die potjiekosdag op 20 Mei.

Pick n Pay Reizis Square is die hoofborg van die dag en gaan saam met Bloemnuusen Radio Rosestad elk ’n reuse-pot maak, waarvan die potjiekos ook verkoop gaan word.

Ander spanne van nie meer nie as vier deelnemers elk gaan dit uitspook om lekker pryse. Die potjiekos wat al die spanne maak, gaan ten bate van die skool verkoop word.

Die meeste van die deelnemers se bestanddele (80%) moet by Pick n Pay Reizis gekoop word, en hulle moet hul strokies die oggend van die kompetisie saambring om in aanmerking vir die kompetisie te kom.

Daar gaan pryse wees vir die beste potte, die kreatiefste pot en die beste stalletjie, waarvoor besoekers sal kan stem.

Plaaslike sanger en liedjieskrywer William Wolf is die gaskunstenaar op die dag, waartydens daar heelwat bedrywighede gaan wees.

Spanne kan hulle inskryf om deel te neem aan boeresport, die kinders sal kan deelneem aan ’n braaibroodjie-kompetisie en daar sal ’n pretpark vir kinders wees.

Kaartjies vir die beesdrop­kompetisie gaan teen R10 by die skool verkoop word. Nog heelwat aktiwiteite en vermaak word beplan.

Daar sal ook ander stalletjies wees, wat onder meer iets te ete en te drinke sal verkoop.

Potmakers sal op Saterdag 20 Mei al om 06:30 kan begin om potte te maak, met die vleis van hul keuse, en die potjiekos sal tussen 12:30 en 15:00 verkoop word.

Teken die datum in jou dagboek aan en maak jou span bymekaar vir die groot pret.

Inskrywings sluit op 15 Mei, en die vorms is by Pick n Pay Reizis Square beskikbaar, of kan by die skool gekry word deur ’n e-pos na drcfvisser@gmail.com te stuur.

You need to be Logged In to leave a comment.