Die skoolvakansie het aangebreek, en binnekort gaan ouers wonder wat om met die kinders te doen.
Gelukkig is die Vrystaat Kunstefees om die draai en is daar hope pret vir die jongklomp.
By die Vrystaat Kunstefees is kinders nie net feesgangers nie – hulle is deelnemers.
Van die oomblik wat hulle deur die feeshekke beweeg is die moontlikhede vir die kleinspan en ouer kinders eindeloos. ‘n Wêreld van pret en kreatiwiteit wag en ‘n geleentheid om die jeug lief vir hulle taal en kunste te maak.
Hierdie jaar bied die fees iets besonders vir die jongspan.
Hiep hiep hoera! Hans Haas verjaar! is net die regte medisyne vir die winterkoue.
Die soms verspotte en baie geliefde Hans Haas kuier reeds tien jaar lank op die fees.
Hierdie keer word sy groot dag, sy verjaardag, gevier. Die dieremaats op Haaslaagte reël ‘n verrassingspartytjie, maar Hans mag van niks uitvind nie.
Hans sê hy kan nie wag om by die fees te kom kuier nie.
“Kinders op die Vrystaat Kunstefees is baie slim en oulik.”

Kinderstorie-kuns
Die Vrystaat Kunstefees en Lapa-uitgewers bied vanjaar gratis, opwindende kunsvlytprojekte vir die jongspan aan.
Saam met vrolike voorlesings word daar geknip- en plak en karakters geskep wat gegrond is op van Lapa-Uitgewers se gewildste jeugboeke.
Om skeppend te wees en boonop te luister, is enige kind (en ouers) se droom.
Mebala-bala werksessies
Hierdie gratis projekte gee aan kinders die geleentheid om hul natuurlike liefde vir kuns uit te druk. Van klippe verf tot blomme maak is op die program.
Sci-Ed Jeugaktiwiteite
Geniet opwindende demonstrasies van wetenskap. Die prettige aktiwiteite en eksperimente bied opvoedkundige vermaak wat nuuskierigheid en belangstelling by oud en jonk sal aanwakker.
‘Sluit kinders in’
Michael Garbett, feesdirekteur, sien die fees as ‘n geleentheid wat kinders moet insluit, met die doel om van jongs af ‘n liefde vir kuns en kultuur aan te moedig.
“Ons programinhoud laat die hele gesin welkom voel. Dit skep ‘n veilige, skeppende
ruimte waarin kinders kan leer en vermaak word, terwyl dit aan ouers die kans gee om die fees met gemoedsrus te geniet.
“Só word nie net die huidige gehore bedien nie, maar ook die volgende geslag kultuur-liefhebbers en kunstenaars geïnspireer.”



You must be logged in to post a comment.