Drink jy heelwat bekers koffie of blikkies energiekoeldrank elke dag? Waag die kans om ’n week lank een van jou geliefkoosde gewoontes te laat staan ter wille van bewusmaking van alkohol- en middelmisbruik.
Die Aurora-alkohol-en-dwelmsentrum bied weer saam met die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Alkoholisme en Dwelmafhanklikheid (Sanca) die jaarlikse Kick your Habit-week aan.
Marietjie Landsberg, direkteur van Aurora, sê die veldtog fokus op die uitdagings wat met alkohol- en dwelmmisbruik verband hou.
“Met dié projek neem ons ’n tree nader daaraan om die aantal mense wat alkohol en dwelms misbruik te verlaag. Dit is ons verantwoordelikheid as burgers van Suid-Afrika om ’n sterk toekoms vir die volgende geslag te bou.”
Die uitdaging wat die veldtog stel, behels dat ’n mens ’n week lank elke dag iets laat staan – hetsy kaffeïen, sigarette, sjokolade of selfs inkopies. Deelnemers hou dagboek van wat hulle gedoen het om by hul besluit te hou en watter uitdagings hulle ervaar het.
Hoewel die Kick your Habit-veldtog vandeesweek nasionaal en plaaslik aangepak is, het Aurora ook vanjaar na skole gegaan om bewustheid onder leerlinge te skep.
Die veldtog duur tot die laaste week van Julie.